Eerste kykie na Blomkamp se Elysium

Fliekgangers in Los Angeles en Berlyn het Maandag die kans gekry om na ‘n vroeë voorskou te kyk van die Suid-Afrikaanse regisseur Neill Blomkamp se nuwe rolprent, Elysium.

Blomkamp was in die regisseurstoel vir die Oscar-benoemde District 9.

Sowat 10 minute van die rolprent is as deel van ‘n spesiale vertoning gewys. Matt Damon, wat saam met Jodie Foster in die prent te siene is, het die vertoning in Berlyn bekend gestel, en het via satelliet ook met fliekgangers in Hollywood se Arclight-teater gepraat.

Die rolprent speel af in die jaar 2154, en die aarde word oorheers deur arm mense. Die rykste burgers woon in Elysium, ‘n idilliese, siekte-vrye utopie wat in die ruimte gebou is.

Damon vertolk die rol van ‘n siek man wat Elysium wil binnekom om ‘n geneesmiddel te vind.

Elysium sal na verwagting in Augustus wêreldwyd begin draai.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar