In Fokofpolisiekar -die movie, klim fokofpolisiekar op die preekstoel.
Uit die hoogtes basuin hulle dit uit: fokofpolisiekar dit, fokofpolisiekar dat. Dit is die nuwe nuwe testament volgens fokofpolisiekar: Uit met die ou god en in met die nuwe god – fokofpolisiekar.
Die ouens van Bellville is toe al die tyd lief vir die kansel. Hulle preek van fokofpolisiekar en van fokofpolisiekar.
As jy Fokofpolisiekar glo is dit steeds die jaar 2000. Daar is nog geen punk in Afrikaans nie en die naam fokofpolisiekar skok steeds elke tweede dominee in Bellville.
Dit gee jou daardie gevoel soos wanneer jy na ‘n paar jaar teruggaan kampus toe. Alles is soos jy dit onthou, maar jy voel uit plek uit. Uiteindelik besef jy dis nie die omgewing of selfs die vreemde gesigte nie, dis jy. Jy het gegroei.

fokofpolisiekar se musiek het nog altyd die idee geskep dat daar groei is, maar hulle het duidelik in hul eie kokon verstrengel geraak het. In dié kokon is dit lekker knus en fokofpolisiekar is god.
Die dokkie herinner sterk aan ‘n propagandafilm, daar is soveel selfverheerliking dat jy moet hard sluk om die braaksel onder te hou. Dis jammer en half sad. Is alles verby? Is fokofpolisiekar nou ooms?
Hierdie is slegs vir geharde volgelinge van fokofpolisiekar, verkieslik serebraal beproefdes, soos dit enige fundamentalistiese aanbidder betaam.
Kopskote vir almal asseblief!
Regisseur: Bryan Little
Met: Francois van Coke, Wynand Myburgh, Johnny de Ridder, Hunter Kennedy en Jaco Venter
1½ / 5
bydrae: HH uit Die Bos.
20 Oktober 2009

Ek het geen probleem met subjektiewe opinies oor films nie. Ek voel net dat Suid Afrikaanse produksies onnodig gekritiseer word. As hierdie ‘n “Hollywood” produksie was met dieselfde inhoud sou daar nie noodwendig so ‘n reaksie gewees het nie. Ek verstaan egter dat ‘n mens nie geld wil spandeer op “iets onplesierig” nie…MAAR Suid Afrika het nie nog altyd rugby gewen nie, bemarkers het ondersteuning vir rugby begin bemark, so het meer geld in die ontwikeling van rugby gegaan en so het ons vandag ‘n goeie rugby span. Mense het rugby gaan kyk of hulle span verloor of wen want dis wat jy vir jou span doen. My argument is dat daar meer ondersteuning aan Suid Afrikaanse produksies gegee moet word, so sal Suid Afrikaanse film makers meer produksies maak omdat daar hopelik meer geld in borge is om dit te maak en op die ou einde beter kwaliteit produksies vervaardig.
Zandre,
Dit klink vir my asof jy voortrekkery bepleit. Persoonlik is ek ten gunste van ‘n goeie loesing op sy tyd.
Is die idee van die dokkie nie juis dat dit geskiedenis vasvang nie?
HH? het jy n persoonlike email adres?