Die donker wolke pak saam, maar steeds kom Harry nie tot ‘n punt nie.
Ons, ons gelukkige paar wat nog nie die boeke gelees het nie, weet daar is iets aan die kom, maar ons weet nie wat nie.
So teen 2011 sal ons alles weet, maar tot dan moet ons tevrede wees met nog ‘n onderdeel, die keer genoem Harry Potter and the Half-Blood Prince, ‘n 153-minuut onderdeel.
Voldemort se aanhangers, die Death eaters, gaan te kere asof hulle almal lidmaatskap van Cosatu het. Hardloop rond soos afkop hoenders, breek goed en het geen respek vir die res van die mensdom nie. En waar is Harry?
Harry is meer geïnteresseer daarin om Cupido te speel as towenaar. Ek sou glad nie verbaas gewees het as Hannah Montanna agter ‘n Hogwarts-pilaar uitgespring en begin sing het tydens een van Hermione en Ron se gesigleksessies nie. En na hoeveel Quidditch-wedstryde moet ons nog kyk? Die reeks raak al meer volwasse, maar die tienermanewales in Harry Potter and the Half-Blood Prince irriteer.
Harry Potter and the Half-Blood Prince kort bietjie drama, maar gelukkig skets filmoperateur Bruno Delbonnel die mooiste prentjies. ‘n Regisseur kan nooit ‘n fout maak om hom nader te sleep nie. Gaan kyk gerus Amélie (2001) en Un long dimanche de fiançailles (2004).
Systap die doemprofete met die bybels onder die arm by die deur en gaan kyk gerus Harry Potter and the Half-Blood Prince. Dit bly lekker fantasie en puik vermaak.
Regisseur: David Yates
Met: Daniel Radcliffe, Rupert Grint, Emma Watson, Jim Broadbent, Helena Bonham Carter, Robbie Coltrane, Michael Gambon, Alan Rickman, Maggie Smith
bydrae: JM
3½ / 5
ps. Harry Potter and the Order of the Phoenix is steeds die beste in die reeks tot op hede. Jy kan laat weet indien jy van my verskil, maar jy moet redes aanvoer.
17 Julie 2009