Met: Daniel Radcliffe, Emma Watson, Michael Gambon, Maggie Smith, Robbie Coltrane, Alan Rickman, Gary Oldman & Emma Thompson
Regisseur: Alfonso Cuarón
Ek sien gereeld hoe lesers kerm oor dat ek in die een asem ´n fliek goed noem, maar dit ´n lae telling gee en dan weer in ´n ander asem ´n fliek afkraak maar dan net so ´n goeie telling daaraan toeken soos die “goeie” een.
Ek kyk normaalweg na verskeie elemente in ´n fliek. Soms sal daar byvoorbeeld uitstekende spesiale effekte in ´n rolprent wees, maar die res stink. Ek probeer gewoonlik kortliks noem wat ek voel sleg en goed is. Die uiteindelike telling is gebaseer op alle fasette van ´n fliek, selfs die wat ek nie noem nie.
Neem nou maar Harry Potter and the Prisoner of Azkaban as voorbeeld.
Die fliek laat my so half onvervuld weens die feit dat die klimaks half afgewater is. Tog verkies ek regisseur Alfonso Cuarón se weergawe bo die van sy voorgangers.
Hogwarts is die keer meer oortuigend. Dit is donker en dreigend, soos mens normaalweg sou verwag van ´n towenaars se omgewing. Hiermee saam is daar die gevoel dat Potter nie meer kan onderskei tussen vriend en vyand nie (behalwe natuurlik Ron en Hermione). Dit maak alles heerlik onheilspellend.
Van die akteurs is Alan Rickman, Michael Gambon en Emma Thompson uitstaande.
Graag wil ek weet hoekom ´n Harry Potter-fliek ´n ouderdomsbeperking van 10 te het? Is die verhale dan nie juis oorspronklik geskryf vir jong lesers nie?
Maak ek nou my sommetjies, dan kry Harry Potter and the Prisoner of Azkaban dieselfde punte as sy voorgangers. Dit is ´n beter fliek as die vorige twee episodes, maar het dit genoeg oemf om 8/10 te kry? Ek weet nie, besluit maar self.
7/10
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)