Hugo

Hugo

Hugo word wyd geloof as een van die beste films van die jaar. Dit is selfs vir ‘n Oscar benoem. Almal stem egter nie saam nie.

Een ding waaroor ons kan saamstem is dat Martin Scorsese ‘n goeie regisseur is. Nie net goed nie – een van die beste. Hy moet net nie onthou word vir Hugo nie.

Dalk was die projek te na aan sy hart. Dalk het hy te sentimenteel geraak. ‘n Belangrike deel van Hugo is die ou klassieke films, die ou helde van Scorsese en Kie. Dis presies hier waar hy vasval en sy fokus verloor.

Aanvanklik beïndruk die film – afgesien van verskeie beelde wat bietjie vals voorkom as gevolg van rekenaaranimasie. Dit skets die omgewing en die agtergrond van jong Hugo baie mooi en die beelde vloei so dat jy wil glo dis alles een skoot. Hugo se pa is oorlede en sy dronk oom moet na hom omsien. Die oom se werk is om die horlosies by ‘n stasie in Parys op tyd te hou. Hugo neem die taak op en leef tussen die mure en takelwerk, terwyl hy buite sig van die eksentrieke stasie-inspekteur (Sacha Baron Cohen) probeer bly.

Hugo het ook ‘n geheim. Hy en sy pa het probeer om ‘n meganiese man te bou. Die blikman hou ‘n betowering in vir Hugo, dis ‘n simbool van hoop; as hy dit net kan laat werk! Hy vermoed die eienaar van ‘n speelgoedwinkel (Ben Kingsley) sal die nodige onderdele kan verskaf. Die onderdele is egter die minste van sy probleme. Uiteindelik gaan hy die hartvormige sleutel nodig hê om die man te laat werk. Die winkeleienaar se dogter Isabelle (Chloe Moretz) sien dadelik ‘n moontlike avontuur raak in die vuil seuntjie.

Die avontuur is vol fantasie en ‘n knippie komedie, wat ongelukkig beland in die draaikolk van ‘n les in filmkuns. Die fantasie vervaag wanneer Scorsese se skote lank en uitgerek raak. Hy begin die storie stief behandel en gee sy bewondering vir die ou meesters voorkeur. Hy fokus veral op die werk van Georges Méliès, net so jammer dit raak ‘n geskiedenisles.

Hugo laat jou aanvanklik snak na jou asem, maar uiteindelik sak jou skouers teleurgesteld.

Hugo
Hugo

Hugo
Avontuur, Drama

Regisseur:

Martin Scorsese

Skrywers:

Met:

Sacha Baron Cohen,
Ben Kingsley,
Chloe Moretz
Ray Winstone
Richard Griffiths
Kevin Eldon
Asa Butterfield
7/10

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply