kykNET & kie loods nuwe sepie

M-Net se Afrikaanse kanale sal Maandag, 16 November ‘n splinternuwe sepie begin uitsaai. Suidooster is die eerste sepie wat in die Wes-Kaap afspeel en sal op kykNET & Kie (DStv kanaal 145) uitgesaai word.


M-Net het die afgelope paar jaar hulle belegging in plaaslike inhoud stadig maar seker verhoog en vervaardig nou programme in verskeie inheemse tale vir kykers. Hierdie wêreldklas, plaaslik vervaardigde programme is almal op die M-Net kanale beskikbaar, eksklusief vir DStv kliënte.

Die opwindende nuwe sepie, Suidooster, bring die talente van top Suid-Afrikaanse sterre bymekaar, terwyl dit ook vir plaaslike akteurs en tegnici ‘n waardevolle platform sal bied om hulle talente ten toon te stel. Dit word verwag dat die nuwe sepie ‘n bydrae sal maak tot die skepping van meer werksgeleenthede in die televisie- en vermaaklikheidsbedryf in Suid-Afrika.

M-Net Direkteur van Afrikaanse Kanale, Karen Meiring, het die volgende te sê oor die ontwikkeling van Suidooster: “Binnelanders en Villa Rosa, ons twee mees gewilde kykNET-sepies, speel onderskeidelik in Pretoria en Bloemfontein af – dit is nou tyd dat ons ook in die Wes-Kaap ‘n sepie kry. Suidooster bied ons hierdie geleentheid, en gaan net nog meer boeiende stories vir ons kykers tot gevolg hê. Al is die Wes-Kaap Suidooster se tuiste, is die storielyne universeel en ons sien uit daarna om dit met Afrikaanse kykers regoor Suid-Afrika te deel,”

Suidooster word vir kykNET deur Gambit Films vervaardig, wat M-Net se toewyding tot die integrasie van die TV-bedryf deur middel van die bevordering en ondersteuning van nuwe en talentvolle vervaardigers, bevestig.

Gambit het hulle self al menigte male bewys as ‘n reus in die bedryf, met spesialisvaardighede in draaiboekontwikkeling, skryf en vervaardiging in die drama genre. Hulle kortfilm, Nommer 37, het groot opslae by die kykNET Silwerskermfees gemaak. Hulle was ook ʼn integrale deel in die vervaardiging van die 20 Ons Stories-films wat in 2014 op kykNET & Kie uitgesaai is.

Suidooster

“Dit is groot voorreg om ʼn splinternuwe sepie vir kykNET & Kie aan te pak. kykNET het oor die afgelope paar jaar ʼn belangrike deel in ons ontwikkeling gespeel deur vir ons die waardevolle geleenthede te gee om ons werk ten toon te stel,” se Gambit Direkteur Travis Taute. “Al daardie stappe het ons tot op hierdie punt gebring, en ons is vasbeslote om aan kykNET te bewys dat hulle vertroue in ons nie verniet is nie. Ons fokus daarop om seker te maak dat Suidooster ‘n program op die skedule is wat nie gemis kan word nie.”

Meiring het ook vir Homebrew Films vir hulle mentorskap van die Gambit-span geprys: “kykNET is verheug oor hierdie vennootskap – wat ons al vir verskeie jare ondersteun en aanmoedig. Ons is passievol daaroor om kapasiteit in die bedryf te ontwikkel en die kykNET Silwerskermfees wat jaarliks in Augustus in die Kaap plaasvind, speel ‘n groot rol hierin.”

DStv kliënte kan Suidooster elke Maandag, Dinsdag en Woensdag vanaf 16 November in die 20:00 tydsgleuf op kykNET & Kie (DStv kanaal 145) kyk. kykNET & Kie is beskikbaar vanaf die DStv Familie- pakket.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar