Lord of the Rings: The Two Towers

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Met: Elijah Wood, Liv Tyler, Christopher Lee en Cate Blanchett
Regisseur: Peter Jackson

Met Lord of the Rings: The Two Towers, het regisseur Peter Jackson ´n skop-skiet-en-doner rigting ingeslaan. In teenstelling met Tolkien se boek het Aragorn en sy maatjies die helde geword (kyk uit vir die poppe by jou naaste speelgoedwinkel), terwyl die Frodo en die Hobbits ´n bysaak word. Indien JRR Tolkien nie reeds in sy graf gedraai het nie dan sal hy soos ´n tol tekere gaan by die aanskoue van die geveg aan die einde van die film.

Die storie van Lord of the Rings: The Two Towers bestaan basies uit ´n stryd tussen die goeie en die bose, met die Hobbits wat nog steeds aansukkel met die ring.

Die karakters in Lord of the Rings: The Two Towers het ongelukkig nog geen diepte. Dit word nou duidelik dat meeste van die akteurs moontlik verkeerde keuses was vir die rolle, maar hoeveel talent het jy nou nodig vir ´n aksie-fliek.

Ek moet dit tog stel dat Lord of the Rings: The Two Towers ´n visuele skouspel van die eerste waters is. Die spesiale effekte en rekenaaranimasie is van die beste uit en die persone wat verantwoordelik was vir die CGI-programering van Gollum verdien spesiale vermelding.

Peter Jackson het ´n meesterstuk in die avontuur/aksie-genre geskep, maar in die proses ´n stuk klassieke moderne literatuur verkrag.

7/10

Lewer kommentaar

Leave a Reply