PHILIPSTOWN – Van die stofferige strate van die Karoo tot die blink skerms van globale roem: die Philipstown Draadkar Grand Prix het amptelik die grens oorgesteek van plaaslike pret tot internasionale skouspel. Boonop is dit nou ’n mobiele speletjie en dokumentêre film.
Die Grand Prix het vanjaar vir die 16de keer plaasgevind, en soos altyd het die strate gedreun van gejuig, piepende wiele en die vasberade gehyg van kinders wat met selfgemaakte draadkarre jaag. Die voertuie word gebou uit enigiets wat jy kan optel: ou draad, koeldrankblikkies, botteldoppies en, indien jy jou fancy hou, die deksel van jou ma se Milo-blik.
Wat as ’n klein gemeenskapsprojek begin het om hoop en ’n bietjie lawaai terug in die dorp te bring, het nou ’n internasionale sirkus geword. Meisies én seuns jaag saam, en as jy onder 18 is, kan jy gratis inskryf.
Die nuwe Philipstown WireCar Foundation is gestig om hierdie wêreldwye aandag te bestuur en die energie daarvan te kanaliseer in drie eenvoudige woorde: kyk, speel, koop (en as jy regtig wil: skenk).
Die spilpunt is die rolprent The Philipstown WireCar Grand Prix, vervaardig deur Giant Films en Accenture Song, en geregisseer deur Paul Ward. Die dokumentêr op Prime Video neem kykers diep in die hart van Philipstown — kompleet met trane, triomf en ten minste een oom wat sweer hy het die idee vir die Grand Prix “baie lank voor almal” gehad.
Die film volg ’n groep jong draadkar-ingenieurs wat elke September hul ingewikkelde skeppings loslaat in die strate. Sommige van die karre het selfs vering, wat meer is as wat mens van party ouers se bakkies kan sê.
Vir die gamers is daar die splinternuwe WGP Mobile Game op iOS en Google Play — ’n digitale tweeling van Philipstown waar jy met jou virtuele draadkar deur die dorp jaag. Jy kan selfs teen die plaaslike kampioene kompeteer.
Hoewel die speletjie gratis is, gaan elke sent van opsionele in-app aankope direk na die Foundation se programme.
En so, te midde van ekonomiese uitdagings en Karoo-wind wat selfs jou gedagtes droogmaak, skep die Philipstown Draadkar Grand Prix steeds ’n toekoms vol vindingrykheid, gemeenskapsgees en kinders wat wys dat jy nie ’n PlayStation nodig het om vinnig te ry nie — net ’n stuk draad en ’n droom.

