Violis Nicholas Bruiners, ‘n bronsmedaljewenner van die 2017 Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK), keer vanjaar na die kompetisie terug om as gaskunstenaar by die finaliste se galakonsert op te tree.
Hy sal die Vioolkonsert nr. 5 in A mineur, Op. 37 deur Henri Vieuxtemps in die konsert finale saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) uitvoer. Dié konsert sluit die uitmergelende 2025 NJMK af wat van 1 tot 6 Desember by die Endler-saal in Stellenbosch plaasvind.
Die dirigent vir die 2025-galakonsert is maestro Brandon Philips, wat ‘n lang geskiedenis met die kompetisie het. Die konsert begin om 18:00 op Saterdag 6 Desember. Dit bestaan uit ‘n overture, die ses finaliste-soliste en die uitvoering van die gaskunstenaar.
Op die ouderdom van 17 was Nicholas, ‘n boorling van Mowbray, Kaapstad, die naaswenner in die NJMK se strykinstrument kategorie en verwerf daarmee ‘n bronsmedalje en R3 000 prysgeld.
‘n Jaar later is hy genooi om as een van die nege skadu jurielede vir die 2018-kompetisie te dien.
In 2023 sluit hy by die KFO aan as lid in die eerste viool afdeling. Na matriek het die talentvolle violis onder die leiding van professor Farida Bacharova aan die Universiteit van Kaapstad (UK) studeer. Hy het sy BMus in Uitvoering met onderskeiding in 2022 en sy Uitvoerings honneurs in 2023 voltooi.
By die Universiteit van Kaapstad was hy die ontvanger van die Kamermusiek prys, die Leonard Hall-prys en die Alfred Libochowitz-prys.
“Ek is opgewonde om vanjaar na die NJMK terug te keer. Agt jaar gelede was dit ‘n senutergende ervaring om teen 20 ander jong, talentvolle musikante mee te ding, maar dit het ook my liefde vir musiek en optredes bevestig,” sê hy.
Die jaarlikse kompetisie is 41 jaar gelede in Port Elizabeth deur Michael Maas begin. Ter ere van sy nalatenskap word die NJMK-eerste prys van R36 000 die Michael Maas-gedenkprys genoem.
Die NJMK vul die leemte vir klassieke orkes musikante wat te jonk is om te kwalifiseer vir die UNISA Internasionale Musiekkompetisie, of te oud is vir die Hubert van der Spuy Nasionale Jeugmusiekkompetisie.
Die NJMK-finaliste se galakonsert is die hoogtepunt van die weeklange kompetisie, waar 22 gekeurde deelnemers van Suid-Afrika ‘n uitgebreide repertoire van werk uitvoer. Hulle word deur ‘n sewe-lid paneel van uit gewaardeerde klassieke musiek akademici en -kundiges beoordeel.
Toegang vir die eerste drie rondes van 1 tot 4 Desember is gratis. Kaartjies vanaf R110 vir die finale ronde se galakonsert is beskikbaar by Quicket https://www.quicket.co.za/events/342468-national-youth-music-competition-2025-finalists-gala-concert/?ref=events-list#/

