Dit is dalk nou die tyd om die boek oor Shrek toe te maak. Dit wil voorkom asof Shrek the Third nie net vir kinders gemaak is nie, maar deur kinders.
Shrek, met Donkey en Puss in tou natuurlik, gaan op ‘n soektog om die regte koning van Far Far Away te vind. Intussen probeer Prince Charming en al die slegte ouens van feëverhale die plek oorneem. En Shrek het nog nooit ‘n sterk storielyn nodig gehad om te werk nie, ongelukkig sou dit die keer kon help.
Die standaard wat Shrek en Shrek 2 gestel het is daarmee heen. Die skerp teks is verruil vir flou grappies wat nie eens uit ‘n kroeg vir alkoholiste ‘n skaterlag sal kry nie.
Die animasie is al waaroor ons Suid-Afrika toe kan skryf. Ongelukkig gaan Shrek-aanhangers erg teleurgestel wees oor die res van die vervelige fliek.
5 / 10
Met: Mike Myers, Eddie Murphy, Cameron Diaz, Antonio Banderas, Julie Andrews, John Cleese, Rupert Everett, Justin Timberlake & Larry King
Regisseur: Chris Miller
