The Blind Side

The Blind Side
Roekeloos

“Based on a true story” op die advertensie is geneig om sekere mense na ’n fliek te laat stroom. Sommige ander verwag outomaties ’n swak film, want ware menslike drama is nie altyd maklik om uit te beeld nie.

“The Blind Side” is ’n term wat in Amerikaanse voetbal gebruik word om te verwys na ’n gedeelte in die speelveld waar die “quarterback” nie kan sien nie. Hier maak hy volkome staat op sy spanmaats om hom te beskerm teen enige “linebackers” van die ander span.

“The Blind Side” was ook simbolies van die lewe van die voetbalspeler Michael Ohr, ’n daklose swart tiener wat deur ’n familie in die suide van Amerika ingeneem is. Ohr se “blind side” was sy verlede. Onverantwoordelike ouers en die nare omstandighede wat hy as klein seuntjie moes ervaar het hom geknak.

Michael is ’n talentvolle sportman, maar ook ’n introvert. Hy het spesiale behandeling nodig en iemand wat agter hom staan – iets wat sy aanneemma, Leigh Anne (Sandra Bullock), besef het.

The Blind Side kon net nog een van daai droewige “ware verhale” geword het wat jou tot die dood toe verveel, maar dit is nie. Dit werk en Sandra Bullock het ‘n groot aandeel hierin. Sy is self afkomstig uit die suide van Amerika en ken haar karakter. Ek sou nooit kon dink die vrou sal ‘n Oscar kon losspeel nie, maar sy verdien beslis haar toekenning. Haar karakter wat nie nonsens nie en help die reuse swart seun om sy weg in die wêreld te vind.

Regisseur John Lee Hancock verdien ook ’n pluimpie vir die natuurlike manier waarop hy die verhaal aanbied en Bullock die kans gegun het om haar eie ding te doen.

The Blind Side
The Blind Side

Nie dat alles aan die film ayoba is nie. Sommige karakters kom oor as winkelpoppe, terwyl daar ook heelwat stereotipering is. Dit neem egter nie veel weg van die goeie, eenvoudige vermaak wat die film bied nie.

Regisseur: John Lee Hancock

Met: Sandra Bullock, Kathy Bates & Tim McGraw

3.5 / 5

Lewer kommentaar

Leave a Reply