The Grey

The Grey
The Grey is regisseur Joe Carnahan se beste werk tot nog.

Bogenoemde beteken dalk nie veel nie aangesien sy tweede beste The A-Team (2010) was. The Grey is egter ‘n groot tree vooruit. Dit is ‘n netjiese stuk werk met met meer vleis om die been as die gewone uitgeteerde goed wat Hollywood voorsit.

Die storie is niks nuut nie. ‘n Vliegtuig stort neer in Alaska met ‘n span taai oliewerkers aan boord. Die oorlewendes probeer hul pad na die beskawing vind. Voor hulle lê snerpende koue en aggressiewe wolwe.

Carnahan ken van macho films maak en The Grey kan mens as sodanig klassifiseer. As daar egter nie veel aksie is nie, is die tonele nie juis van gelyke gehalte nie – Liam Neeson s’n uitgesluit. In meeste gevalle is die probleem die akteurs, eerder as die regisseur. Baie van hulle sukkel om die macho beeld oortuigend af te wissel met ‘n emosionele sy.

Neeson lewer ‘n kragtige vertolking. Die sukses van die film is hiervan afhanklik. Sy karakter, John Ottway, word van alle kante bedreig deur koue en wolwe. Hy staal hom met mooi herinneringe en ‘n gedig wat hy by sy pa geleer het.

Die film is nie vir almal nie. Dit is somber en volg ‘n stadige pas. Saam met die karakters peil jy af op ‘n eksistensiële konfrontasie met die dood, en die vraag is: Waar vind jy onder sulke omstandighede jou motivering?

The Grey
The Grey

The Grey
Drama, Aksie
Roekeloos

Regisseur:
Joe Carnahan
Skrywers:
Joe Carnahan
Ian Mackenzie Jeffers
Met:
Liam Neeson,

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply