The Imaginarium of Doctor Parnassus

Grootmense kan ook opgewonde raak oor flieks en Terry Gilliam se jongste is ‘n goeie rede om jou Coke en springmielies te upsize tot jy net oë sien uitsteek.

En jy daag maklik ‘n uur voor die tyd op, net omdat Tom Waits die duiwel speel.

Om ‘n fliek van Terry Gilliam te gaan kyk is soos om sirkus toe te gaan. Sedert sy surrealistiese mannewales saam met die onvoorspelbare Monty Python karakters laat hy ons monde oophang met sy eiesoortige betowering. Soos klein kindertjies op die voorste bank by die sirkus laat hy ons ekstra regop sit, net om seker te maak ons mis niks.

Daar is natuurlik uitsonderings op Gilliam sy lys films, maar wie gee om? Die man het mos reeds bewys met Monty Python and the Holy Grail (1975), The Meaning of Life (1983), Brazil (1985), The Adventures of Baron Munchausen (1988) en Twelve Monkeys (1995).

In The Imaginarium of Doctor Parnassus Dr. Parnassus galop Gilliam se verbeelding weer lekker met hom; hy het ook die storie geskyf. Dr. Parnassus (Christopher Plummer) het duisende jare gelede ‘n ooreenkoms aangegaan met Mr. Nick (dis nou die duiwel in die vorm van Tom Waits) wat aan hom onsterflikheid besorg het.

The Imaginarium of Doctor Parnassus
The Imaginarium of Doctor Parnassus

Parnassus het sy eersgebore dogter aan Mr. Nick beloof aan die einde van haar vyftiende jaar. Dis nou sulke tyd. Die duiwel kom sy pond vleis, Valentina, haal. Valentina word gespeel deur die model Lily Cole, wie menige duiwel sal laat kwyl. Pa moet nou vinnig plan maak en wat volg is ‘n resente weergawe van die Faust legende.

Hierdie was Heath Ledger se laaste fliek, hy is oorlede tydens die verfilming. Die storie is aangepas en Johnny Depp, Jude Law en Colin Farrell is nader getrek om die nuwe rolle te vertolk.

The Imaginarium of Doctor Parnassus Dr. Parnassus is baie dinge, maar wat jy wil weet is dat hierdie vermaak uit die heel boonste rak is.

Regisseur: Terry Gilliam
Met: Tom Waits, Christopher Plummer, Lily Cole, Johnny Depp, Jude Law, Colin Farrell en Heath Ledger

3½ / 5

1 Februarie 2010

Lewer kommentaar

Leave a Reply