Die fees is ‘n platform vir onafhanklike filmvervaardigers en gee aan fliekgangers die kans om van Suid-Afrika se nuwe en vars talent eerstehands te aanskou. Daar was meer as 40 films van regoor ons land, kontinent en verder op die visuele spyskaart.
Twee Grade Van Moord, ‘n verhaal wat die aspekte van ‘moord’ uit verskillende perspektiewe, ongenadige selfsug en onselfsugtige omgee en genade ondersoek, speel af in Kaapstad en die regie was behartig deur Gerrit Schoonhoven. Dit sal vanaf Vrydag, 22 Julie 2016 in teaters landswyd wys.
Vervaardiger, Barry Strick, bedank die organiseerders en beoordelaars van die fees vir hierdie voorreg. Hy noem dat hulle baie trots op die toekenning is en dat dit van die hoë kwaliteit van die film en die geliefdheid van die akteurs spreek. Hy Is baie dankbaar vir Sandra, Marius, Gerrit, Anita le Roux en Ronelle Loots vir hul fantastiese ondersteuning.
Hierdie was ook ‘n geleentheid vir die publiek om die film vir die eerste keer te sien in die vlagskip, The Showroom Theatre, by die fees. Dit is vervaardig deur Barry Strick van Inverse Films, Full Faculty Films, in samewerking met Waterfront Film Studios en die Departement van Handel en Nywerheid. Twee Grade Van Moord word in Suid Afrika versprei deur Indigenous Film Distribution.
Twee Grade Van Moord vertel die verhaal van Aleksa Cloete (Sandra Prinsloo), ‘n welbekende Kaapstadse sielkundige, wat ‘n topverkoper boek, Die liefde kwes nie, geskryf het. Alhoewel sy in ‘n lang en gelukkige huwelik is met Ben (Marius Weyers), het sy ‘n baie siniese en intellektuele uitkyk op die liefde. Hulle enigste kind, Christiaan (Roelof Storm), was tydens sy grootword jare afhanklik van die liefde en ondersteuning van sy ‘tweede’ma, die lojale huiswerker, Fy Abrahams (Shaleen Surtie-Richards).
Soos wat die verhaal vorder word Aleksa geforseer om haar eie integriteit te bevraagteken en ook haar bereidwilligheid oor wat sy sal op offer vir die vir wie sy lief is. Op die ou einde moet sy die vraag antwoord: “Wat sal die liefde doen?”
Helen Kuun, Besturende Direkteur van Indigenous Film Distribution, beskryf Prinsloo en Weyers as twee talentvolle akteurs wat skyn in hierdie komplekse rolle om die ware en moeilike natuur van liefde op die silwerdoek te vertolk. Hulle het in nog net vier films saam verskyn, waaronder die bekende The Gods Must Be Crazy in 1981. Die laaste keer wat hulle saam in ‘n film gespeel het was in 1989, wat Twee Grade Van Moord ‘n langverwagte reünie van die twee uitmuntende akteurs maak ‘n mylpaal in Suid-Afrika se filmgeskiedenis.