Kieslys

Close


*/

20 Mei
2009
Gedigte
6636 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Brigitte Smit

As Jy Weg Is

Dis as jy weg is
Dat die ‘silver linings’ eerder grys skakeer
En die wyn in my glas galbitter proe
En die flikvlam van die kers in my vensterbank voortdurend protesteer

Dis as jy weg is
Dat die, blue Mondays’ sommer Dinsdag, Woensdag en Sondag word
En die nougat in my hand spons proe
En die strale wat altyd op my linne geskyn het, skort

Dis as jy weg is
Dat die ,shooting stars’ net ‘n droom bly
En die koffie elke oggend ene hout proe
En nog my selfoon, nog my deurklokkie lui.

Dis as jy weg is
Dat die ‘fireworks’ vrek op ‘n ry
En die muesli en die yogurt na woestynsand proe
En ek besef jy’t seker, nes op die platteland paaie, uit my bereik gegly …

Jy Vertel My

Jy vertel my van die maan se lag
Tog druk jy spelde in die are van my wang
As jou hand oor die vlekkies en my trane vee
En die dimpels langs my lippe verlam
Jy vertel my van die druppels dou
Wat teen die wimpers van die rose gaan slaap
Tog pars jy die trane uit die geraamtes van my siel
As die potrette van die nag aan die skeidsmure kom vashaak
Jy vertel my van die diepste blou kis
Wat se skatte in my oë verskadu word
Maar ek was jou woorde uit die gleuwe in my nek
As die herfsreën deur die blare van die Victoriastraatlaning stort.

Skaal

(Vir Herman)

Jy’s vleuels waarop jou stem sweef
Dit swem op die rug van die wind
Jy word simfonieë wat kartel deur die lugdruk
En snaarloos die akkoorde aan my vaslint

Jy vou my drome op
Weggepak in die laaie van die herfsson
Ek’s geweeg op die skaal van jou siel
Ondergewig, lae massa het my laat omkom

Jou glimlag word die rotse
Op die grondpad, kronkelend na my traan
Dit syfer af deur die blou kruike
Tot ek in die poel van jou oë bly staan

Jy bou in my fondasies
Wat die konstruksies in my hart ontlont
Maar ek smelt in die vlamme van jou lyf
In stukkies as, gestrooi oor jou wandel grond

Januarie Liefde

Jou foto in blou is nog in my beursie
Jy verwond my met jou oë, ‘n jaar lank al
Want Januarie ’06 – ons Maties Eerstejaar
Het ek halsoorkop deur tuimelende bloeisels in Victoriastraat vir jou geval
vir H

Januarie liefde, tot by November en Desember aangestap
Jou sensuele mond en oë het my met skroewe deurboor
Skroewe, wat die plankies van my hart vasskroef
Maar nou in Desember voel dit asof ek uitskroef en jou tot volgende Januarie moet verloor

Herfswind Tango

(Vir Herman)

Ek staan verwaaid deur die lewe se woestynkorrels
Verskroeid staan ek in ‘n hoek se skadu silhouet
Ek word houtskoolflenters in jou
Want ek’s die girl wat jou liefhet

Ek’s die meisie in die hoek wat verwronge skuil
Ek’s die girl wat vir jou wag aan die punt van die Laan waar die maan op die water huil
Ek tango met die Herfswind, want die silwerstrate lei jou nie na my
Weereens het nog n oomblik verby gegly

Herfswind tango, regdeur jou hart
Herfswind ballroom, as jy my hart in breuke verkwart
Herfswind sokkie, Donderdae in Nu’Bar se ry
Herfswind slowdance, as ek droom jy’s verlore in my

Ek skuur teen die muur af
Verskuilend in die nag se donker geheim
In die silhouet van die straatlig in Andringastraat
As die klanke van weemoed oor jou in my kom pyn

Ek’s die meisie in die hoek wat vasklem
Die girl in die hoek wat jy met jou ysblou kykers vaspen
Ek slowdance deur herfsblare, want jy daag nie op
Maar tog bly my hart geluidloos teen die prikkels skop

Herfswind tango, deur die lyne in jou oë
Herfswind ballroom, as jou hart nie myne kan glo
Herfswind cha-cha, as my kop te veel oor jou dink
Herfswind slowdance, alleen in die straatlig wat blink

Breek My

(Vir David)

Elke keer as ek jou voetspore wil dood vee
Uit die sande wat woestyne van skurfheid in my waai
Kom jy terug en loop oor die duine
Terwyl die korrels die voetspore weer wyd rond saai

Elke keer as ek jou glimlag wil afskuur
Van die mure in my hart se memoires-gang
Kom jy terug en messel jouself weer daar vas
Waar die flitse in my bewussyn dit weer vasvang

Elke keer as ek die aanraking van jou sagte hande
Met my trane, van myself af ontsmet
Kom jy terug soos ‘n parasitiese wolkkombers
So asof ek na hierdie skeurende pyn gevra het

Elke keer as ek jou oë se diepste kyke
Stuk-vir-stuk uit my leksikon uit haplografeer
Kom jy terug, so ongevraagd
Om net nog ‘n stuk van my gevoelens weg te kan skeur

Elke keer as ek jou naam
Van my palatum se spraakklanke af verban
Kom jy terug en vorm herinneringe soos heuning in my mond
Wat in ‘n taalkonstruksie met my gedagtes staan

Elke keer as ek weer in my bed lê
Kriewel daardie noodlottige aand deur my siel
Die aand toe ek my hart gedood het
En jy my heeltemal, met jou nabyheid kon verniel …

Nektar

(Vir Herman)

Ek smag na die nektar in jou mond
Wat met sy soetheid my asem vasvang
As jy my sag groet en verby my stap
In die Lettere-gebou se tweede-vloer gang

Ek smag na die nektar van jou lyf
Wat soos ‘n koningskleed om my kan drappeer
Terwyl die Stellenbosch wind die pante terg
En binne my kan kom jukstaponeer

Ek smag na die nektar van jou woorde
Wat soos ‘n simfonie deur my kom druis
As jy met my praat in die ATW-klas
En my hart se klop met ‘n glimlag kruis

Ek smag na die nektar van saamwees
En jou deel te maak van my herinnering
Maar die asyn smaak van jou woorde
Is die teken wat die seer na my toe bring …

Helshoogte Psalm

(Vir H)

Aan die hoeke van my mond
Word jy ‘n stil, verswygde gebed
‘n Psalm van ontnugtering
Jy word my hart oor-en-oor belet

Die hoeke van my mond brand
Want jy word soos arseen in my bloed
Wat stuk-stuk ‘n sel uit my kom brand
Soos ek jou met ‘n bevlekte siel, in afwesigheid, groet

Ek drentel in die dal van hartskeurende skadu’s
Maar jou glimlag bly my by
In die laaste dae se tikkende wyser wat versteen
Maar, jy is stuk-stuk besig om weg te gly

Met jou was niks skort nie
Maar alles was verkeerd met jou
Ek lê my neer in die weivelde van jou naam
Wat syferend deur die papier se lyne kom grou

In jou oë vind ek rus
My lewe het orkanend kom vergaan
Jy kies koers deur die bruisende swygende water
Jy vlug weg – en ek bly agter in die stil gedig staan

BA Verwyt-en-Wegsmyt Bestuur

Universiteitsdae was ‘n fees tot jy daar was
Die geluk het op ‘n afstand gebly
Want net somtyds groet jy nog
Ander tye is jy skaam vir my

Ons swot dieselfde BA – rigting
Dis verdeel met ‘n wit gepleisterde muur
Want jy’s deel van BA verwyte
BA Verwyt – en – Wegsmyt bestuur

Hoe?

(Vir David)

Jou silhoeët dwarrel weer voor my
Jy spook in die lyne van my bewussyn
Kan ek jou uit my uit brand?
Hoe verduur ek hierdie diep, verwronge pyn?

Ek sien jou verdwyn rondom elke straathoek
Jy vleg deur die verkeersligte en die voetoorgang
Kan ek jou uit my are uit smelt?
Hoe kan ek hierdie dood, verkrampte hart vervang?

Ek lees jou laaste woorde op my foon
Jy word weer lewendig in die SMS geluid
Kan ek jou, soos die boodskappe, net uitvee?
Hoe kan ek die snyende lemme in my stuit?

Ek herhaal weer die lyne van jou glimlag
Jy het dit in my siel geprogrammeer
Kan ek myself van jou aanraking reinig?
Hoe kan ek jou vergeet – jy wat my fyn en flenters skeur?

Hoe kan ek tog vergeet?

Hoe kan ek nog onthou?
Hoe vergeet ek ‘n oomblik op die mallemeule tussen jou arms
Wat my in ‘n betowerende angstigheid kon toevou?

Woensdag

(Vir David)

Ek sien jou staan onder flitsende ligte
Die spore van brandewyn en coke alreeds diep getrap
Ek voel weer die nabyheid van jou hande
Soos ons in die snerpende koue deur Alexanderstraat stap

Ek ervaar weer jou lippe
Wat afgly in die rondings van my nek
Ek het gedink jy het die stofpad in my hart gekruis
Om die seerkry met jou skaam glimlag te bedek

Met jou hande wat nog stadig
Teen die kante van my heupbene speel
Het ek weer gehoop dat jy die een sou wees
Wat die regte stuk in my hart kan kom steel

Ek staan met my hart in my hand
Dis in duisend flardes wat ophoop in my palm
Ek weet jou lippe, jou lag en die glans van jou oë
Sal lank in die stil oseaan binne my kom rond talm

Bo My Vuurmaakplek

(Vir Herman)

Jy sit in die klas, in die heelagterste bank
In filosofie en sielkunde 114
My oë ontmoet joune; ‘n splitsekonde of drie
Wat my mondhoeke weer na die sewende hemel stuur

Jy groet my, en my hart raak stil
Tot ek uitstap in die reën buite die Geologie
Waar ek terugflits en jou glimlag weereens herleef
Maar jy verdwyn in die massas, en ek sien jou nie weer nie

Jou Levi jeans, en die strepe op jou trui
Is die figure in my kop terwyl ek sit, in die klas
Jou oë se misterieuse kyke
Dra ek saam met my, in die spasies van my hart se donker tas

Jou woorde herhaal hulself
Dit verander die wintersdag in ‘n stil middag se somerswind
Wat die reuk van jou nabyheid, al bly jy tog ver van my
Aan die hoeke van my hart bly vasbind

Jy dra die etiket van “kyk, maar moenie raak nie”
Agt maande lank al weerkaats dit van jou kant
Maar iewers tussen die eikebome in Ryneveldtstraat
Het ek die gevoelens vir jou aan die helderblou lug verpand …

(Vir Carla [beste woonstelmaat OOIT!])

As Sielkunde 144 dwars in my gemoed kom lê
En die strate in Stellenbosch se gewoel my onderkry
Was die warmkombers op jou bed, en jou luisterende oor
En die Casper-staaltjies op jou foon, medisyne vir my

“Wie wil nou inbreuk”, sal ‘n glimlag bly verf
As ek eendag weer in die verwaaide spore terugloop
In die teerstraat verby Protea Boekwinkel
As ons, soos telkemale, gaan McDonald’s koop

As die herfsblare kom nesskrop, saam met Blertsie, in die woonstelgang
As die skottelgoed weer ophoop op die kas
Sal ek weer die dae onthou hoe ons uitgewerk het
Wie se beurt dit is om volgende te was

As die oggendure se uitgaan gevoel
Weer êrens in die sterrenag kom blink
Sal ek weer terugdink aan Nu’Bar
En die vele kere van Tequila en Hunters drink

Die geheime van vriendskap lê opgesluit
Met die sleutel in my sak wanneer ons uitgaan
“My jean sak af”, “Myne ook meisie”
Is terme wat net ons twee sal kan verstaan

“Ek het jou nou mannetjie”, dink ons by onsself
As ons die redes vir ‘n aangename filosofie klas gewaar
Ons begin weer onderlangs lag
Terwyl ons probeer om ons bonsende harte te bedaar

Soos Bonnie en Clyde, en koljander se vinkel
Hang ons eerstejaar se foto’s teen my hart se muur
Want met twee wêrelde soos uiteenlopend, uitmekaar
Is ons saam op hierdie lewenspad gestuur

Sien jy my?

(Vir Herman)

Ek wonder hoe jy na my kyk
Kan jy sien verby my siel se deur?
Kan jy sien hoe jou glimlag in my strate wapper?
En die reuk agterlaat van ‘n mid-September lentegeur?

Ek smag na die kennis opgesluit in jou lippe
En die lyne wat agter jou glimlag waak
Kan jy sien dat my hart in duisend liters smelt?
En dat jy aan die hoekies van my glimlag raak?

Kan jy sien jy ruk die wonde oop?
Omdat jy nog so ver van my af is
Kan jy voel dat die diepte van jou wimpers
Die ekstase van seerkry in my kom blus?

Hoe lank sal die vuur in my gees bly brand?
“Vir altyd” antwoord ek
Kan jy sien jy dra onbewustelik die sleutel
Vir die deur van jou uitgekerfde binne plek?

Jy woel deur my are
Kan jy sien die naambordjies, dra jou naam, binne my?
Kan jy sien dat jy my tog onbewustelik seermaak,
En dat jy altyd in die glinster van my oë sal bly?

Kan jy my raaksien?
Ek, met die smagtende glimlag na jou groet?
Kan jy sien dat die yskoue blindstaar van jou na my kant toe
My vir ‘n onbegaande sonde laat boet?

21/09/2006

Lankal Al

(Vir Herman)

Lankal al kleef jy aan my hart vas
Soos die Velcro van jou streeptrui
Lankal al het jy ‘n kasteel kom vasmessel
En dig in die vesels van my hart kom bly

Lankal al het jy die hoekpunte in my
Se stukkies weg kom skeur
Lankal al is dit jou misterieuse oë
Wat in die lyne van my lyf kom triomfeer

Lankal al klop my hart in sy hoogste versnellings
Soos dreunende donderweer deur die lug
Lankal al het ek onder die verwytende kyk
Van jou verleidelike pupille probeer vlug

Lankal al leef ek vir elke oomblik
Om jou gestalte weer te kan sien
Lankal al het jy die volume geword
Wat my met my elke dag se porsie energie kom bedien

Lankal al sweef jy deur my lyf
Deur my mond se storie lyne
Lankal al wens ek, ek was ‘n deel van jou
En as iemand sou vra: “Ek’s syne”

Issues

(vir Herman)

ek het issues met jou
jy staan voor die wolk van my geluk
jy steel die silwerrant wat hom omgord
en jy kan sien hoe ek in die seerkry roggel en verstik

sal jy net eenkeer ‘n tree in my rigiting gee
en met jou warm hand die lewe aan my teruggee
jy is ‘n jukstaponering binne my
maar tog staan ek hier alleen en verleë

ek het issues met jou
jy steel die lig wat my hartklop bevat
maar elke dag drentel jy deur Ryneveldtstraat, onaangeraak
En verlore stap ek in Victoriastraat: seer, gebroke en afgemat

my vriendskap is ‘n klug vir jou
want agt maande het jy dit ignoreer
maar my son sal weer opkom deur die wolk agter jou
en my hartseer smelt tog eendag weer …

Sou jy?

As jy net geweet het dis die laaste keer
Wat jy my in jou arms vas sou kon hou
As jy net kon geweet het dat dit die laaste keer sou wees
Wat jy my in jou warmte sou kon toevou

As jy dit net vroeër sou kon weet
Sou jy nogsteeds die deur agter jou toeklap?
Toeklap – dat die kosyne in my hart
In hul fondasies skud, en die bordjies nog rondflap

As jy alles kon geweet het
Voor die sneller my vingerpunte kon kerf
Sou jy die beloftes nagekom het?
Of sou jy my hart gelos het om deur die pyn te kerf?

As jy vroeër kon geweet het, dat ek nie na alles, daar sou wees
Sou jy toegelaat het dat die wond oopbars?
Sou jy my vasgehou het en gesê het: “Alles is reg”?
Of sou jy toegelaat het dat die lood deur my are knars

As jy alles net kon geweet het
Sou jy dat ek roggelend hier lê in die suipeling van my bloed?
Want hier lê ek, sterwend en gewond
En die laaste asem is waarmee ek jou groet …

Karoo Herinnering

Op die stofpad langs die N1
Weg, deur die Karoo
Kies my siellose hart koers
Weg na die Namib, weg na die Molopo

Die koringare staan soos ‘n pelleton
Op die koringlande, gewaad
Ek is ‘n koringaar in die wind;
‘n Vegter sonder swaard

Die oranje-rooi gesigseinder
Lyk soos ‘n ewigheid opgesluit, en sleutelloos
Die seer vreet my lewendig
Die koue wind brand my voos

Die afdraai paaie van hartseer lei my
Die bordjies langs die pad het geen rigting meer
Die heuwels in die verte word monsters
Wat die druppels op my ooglede nie kan keer

Jou diepbruin oë wat altyd deur my kon kyk
Word die flitsende kat ogies op die pad
Jou woorde is die flikkerende verkeersligte
Wat soos woestynsand deur my kom klap

Die motors wat verby my jaag
Dra jou laaste silhouet diep in die donker nag
Hier in die dorre karoo-woestyn
Sal ek veg en soek na die herinnering van jou laaste lag

Daar Waar Jy Behoort Te Wees

Die swye in my kamer weergalm
Die vier mure rondom my word jou wegkruipplek
Daar waar jy behoort te wees
Lê nou net ‘n pynvolle vlek

Jou woorde wat in die lug hang
Word ‘n yskombers wat om my vou
Daar waar jy behoort te wees
Is net ‘n wond, van jonkheid, nog rou

Die drome van die toekoms
Het skilderye van die verganklike geword
Daar waar jy behoort te wees
Het Cloisonisme, as raam, die traandruppels omgord

‘n Asem van liefde
Speel nou as koue rillings op my rug
Daar waar jy behoort te wees
Is net ‘n silhouet van jou verlate vlug

Die vlees van jou menswees
Is nou ‘n dwalende engel in ‘n boek
Daar waar jy behoort te wees
Is die hoofstuk toegesluit, en die sleutel op soek

Daar waar jy behoort te wees
Is ‘n leë kol van gravitasie
Daar waar jy behoort te wees
Bly nou in my arms ‘n donker, hol spasie

Jy’s Weg

Die lanings getooi in herfs bars deur my hart
Toe jy die deur agter jou toeklap
Want jy dwarrel hier uit, saam met die winde deur my ruit
Waar jy ‘n stoflaag van verlange agterlos
Maar hier in die hersfwind, in die middel van Stellenbosch
Het jou seerkry my hart van sy voel verlos

En hoe kan ek nou luister na jou stem
Wat weergalm in die duister
Jy spook nog teen die bordjies in my hart
Wat blou en wit gesaai staan, en heeltyd by my verby gaan
En laat struikel oor die klippe in my pad

Aalwyne lê met dorings; laat letsels binne my
Waar kan ek die padkaart weer na jou hart toe kry
Want jy was my engel – deur my son getooi
Jou afsydigwees bly weereens my hart looi

En hoe kan ek nou luister
Na jou weg, verlate fluister
Wat dwaal op die grondpaaie in my kop
Jy bly die spook wat wandel
En my hart steeds na links laat kantel
Met die aanhoudende beeld van jou wat bly klop …

Jy’s Beautiful

Ek gee nie om nie, want jy is hier
Jy is die engel in die sonlig teen die muur
Jy glimlag deur die venster, met patrone in jou oë
Jou vleuels dra die drome waarin ek bly glo
Jy vang my hart, in die fluister van die wind
Waar dit speel teen Duiwelspiek se suidste punt

Jy’s beautiful, my hart sê vir my so
Met jou teenaan my, sal ek altyd bly glo
Jy’s beautiful, waar die son breek op Bloubergstrand
En dis hier waar ek my hart vir jou liefde verpand
In my hart lê jou seisoene uitgekerf
Dis somer het jou naam in my uitgeverf
Jy loop spore deur my, sandkorrels waai deur die gang
En ek dink aan jou in die N1-spitsverkeer as ek na jou verlang
Maar, jy’s orals in my hart, in fotorame vasgelê
Jy bly beautiful, dis al wat ek kan sê

Jy’s beautiful, die engel aan my sy
My hart is met jou liefde se goue lyne omlyn
Jy’s beautiful soos die dagbreek wat op Robbeneiland rondgly
Jy’s beautiful, ja beautiful vir my

Vlindervlug

Hoekom gaan jy weg op die vooraand van ‘n nuwe begin
Jy het my oog gevang, dis vir jou wat my hart sing
Nou keer jy noordwaarts, Kaappunt sluk my in
Waar het als geëindig? Kan ons net weer besin

Jy vlug weer na jou Jakaranda stad
In pienk en pers getooi
Jou diepblou oë glinster teen die maan
En net aanhou om my hart te looi

Jy vat die Woensdagvlug, deur die Hoëveld lug
Ek draai verward om, en gee ‘n sug
Ek staar my blind teen die weggaan, om net te vergeet
Want ek bly maal om die idee van jou – dis al wat ek weet

Die son sal weer my vlerke vul
Maar jy slaan op ‘n vlindervlug
Terug, ver terug na jou Jakaranda strate
Op die lyne van my hart se padkaarte
Waar die winterskou, deur my jas se pante waai
En jou vlindervlug se silhouet teen Tafelberg aflaai

Wanneer keer jy terug …
Want jy, ongevangde vlinder draai jou rug …
Weg van my …

Spieël

(Vir Le Roux)

Ek kyk binne in hierdie gekraakte spieël
Opgehang teen die mure in my gees
Geval, gebars, versplinter
Is die weerkaatsings wat ek daarin lees

Elke hoekie glas sny my
Die bloed verf ‘n skets op die vloer
Beklemtoonde lyne van jou silhouet
Is wat hierdie druppels neerdrup en uitvoer

Die raam lê versplinter
Onder die sole van jou voete vertrap
Elke flits daarin word ‘n afkraaksel
Wat my dooie siel verder wegklap

Ek verbrokkel voor jou oë
Ek bars in stukke van seer
Want jy, ja jy, het my hier gelos
Iewers, in ‘n alleen, verlate sfeer.

Weg

(Vir Le Roux)

Die koue kruip in my siel
Jou blou oë brand soos kringe vuur
Wat regdeur my skroei
As jy my sou aangluur

Die foto van jou bestaan
Wil ek net uit my uit skeur
Dit metamorfeer my in stukkies as
Wat verdwaald wapper op die wind se fleur

Jy knip spasies uit my hart
Wanneer jou glimlag my weer vasboei
Jou kritiese woorde word lemme
Wat elke spatsel lewe uit my uit laat bloei

Jy voel nie hoe ek oor die afgrond val nie
Jy kyk die kranse heel mis
Niks kan my, tuimelende gees, vang nie
Want jy’s nie van my steiering bewus

Ek staan hier op die groue rots
Neem afskeid van jou in die loeiende wind
Ek swerwe, ek tuimel
Tot waar ek die see se rouheid vind.

Afgrond

Trap ek oor die afgrond
Val ek op die wind
Wat my sal verlos van seer hê
En terugbring na die tuiste van ‘n kind

Trap ek oor die afgrond
Breek die trane weg
Iewers sal die glimlag aan my mondhoeke
Deur die koper kleur hout vleg

Trap ek oor die afgrond
Draai ek nooit weer terug
Dis dan wanneer ek koers kies
Na my kaalvoet-engelkind-vlug

Trap ek oor die afgrond
Speel ek teen die rotsbreuk
Waar die branders se spuug
Die geheime van hierdie elegie versteek

Trap ek oor die afgrond
Sê ek gou goodbye
Want dis hier waar die wind die trane in my lyf
Stadig, maar seker droog waai.

Gaan Aan

(Vir Rijk)

Ek vang jou herinneringe vas In hierdie rymlose gedig
Want jy het ‘n ellips geword
Na die kommapunte waarby ek nou vashaak
En ek weet nie waarheen nou
Met hierdie woorde wat van korte duur is
Stom, seer en alleen huiwer ek by die dubbelpunte
Want ek weet hierdie woorde sal ook ‘n hernieubare cliché word
Soos ek elke dag aangaan en jou beloftes net flokkies as word
En die vuur binne my deur jou oë geblus word
Gaan ek aan op my lewenspad
Sonder ‘n koppelteken
Sonder jou.

Ter Aard Bestelling

Jy het my asemteue weggegooi
In die diepte van die ysblou see
Jy het my verdrink tussen die seewier
En my lewelose siel nooit teruggegee

Jou verskonings het my kis geword
En jou oë se herinneringe die kluite
Wat doelloos teen die houtkis klap
Maar ek wat binne is, is niks – net soos buite

Jou gedagtes word my begrafnisrede
‘n Roerende klomp klinkers in ‘n sin
Jy is self die predikant wat agterbly
Maar hier tussen die engele sal ek my nuwe leweloosheid begin

Jou treë saam met myne
Word die stoet, met “Hoofligte Aangeskakel”, asseblief
Ek was jou ter aard bestelling
My begrafnisruiker was jou laaste brief …

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Gedigte
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

H L Wehr
2019-01-17 22:25:02
Definisie en betekenis die verskil...
Robert
2019-01-10 18:20:15
Kan Annarine Erasmus my groot asb kontak deur my te epos na robert.conradie91@gmail.com Dis in verb...
Robert
2019-01-10 18:11:44
Hi annarine dis Robert hoe kan ek met u kontak maak. Stuur asb virmy 'n epos na robert. conradie91@...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD