Aanvaarding
Jy omring jouself met mense. Vriende wat, lag, gesels en vrolik is.
Maar jy staan alleen.
Karre, busse en trokke jaag onverpoost by jou verby.
En tog staan jy alleen.
Kinders speel en baljaar, met n uitbundige geskree wat in jou ore weergalm.
Maar steeds staan jy ALLEEN.
En dan…
Dan kom die self erkening.
En jy besef dat alleenheid is eintlik net ‘n oorverdowende stilte.
‘n Oorverdowende stilte, binne jou malle gejaag na aanvaarding.

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Vallei van Verlatenheid
Die holruggeryde stilte maak die kleinste piep geluidjie weergalm teen die blou hemel.
Die uitroep van die nietigheid, ten aanhore van die almagtige grootheid.
Die mens voel klein en min teen die majestueuse van die verlatenheid.
Dis hier waar die Salige stilte jou menswees deurdrenk.
En jy weer mens word.
Seerkry tot ’n nuwe dimensie
Mag jou fisiese pyn die onbekende van jou hart se seerkry verdruk, totdat dit onbewustelik
die gang van jou lewe verander,
die dink van jou wese meevoer
en sodoende die uitkyk en insig van dit wat jy het en graag wil hê in ’n nuwe dimensie plaas.
Hoe kan dit wees?
Kan naby tog so vêr wees?
Kan helder tog so donker wees?
Kan mooi tog so lelik wees?
Kan die oog en die siel terselfdetyd so misleidend wees?
Dat die siende eintlik blind is.
En die blinde eintlik die gelukkigste?
Toekoms hoop
As die dag van swoeg en sweet verby is,
as die take verrig is,
as jou lysie af gemerk is, wat bly oor?
Totale satisfaksie?
Omring dit jou teenwoordigheid of is dit steeds slegs jou toekoms hoop?
Om te lewe
Om te kyk is om te sien.
Om te luister is om te hoor.
Om te voel is om te lewe.
Om lief te hê, is om dit wat saak maak te vertroetel, te vertroos en nie te oordeel nie.
Om nie te meet nie, om nie vrae te vra nie.
Maar om net onvoorwaardelik lief te hê.
Waar die murg en been ‘n eenheid vorm en die liefde na die oppervlak stoot sodat jy dit kan ervaar.
Die spieëlbeeld van fantasie
Is dit ‘n spieëlbeeld? Of is dit ‘n fantasie?
Waaraan meet ons die pols van die lewe?
Klop die eenvoud ritmies? Of is dit ‘n fabelagtige melodie?
Is die vae hoop wat ons koester net ‘n glinstering in die oog van die dromer?
Of maak ons, ons swerwende drome ‘n realiteit in ons fantasiewêreld?
Blink die blink so skerp?
En kleur die kleur so helder?
Of fantaseer ons in ons fantasie oor hoe om ons innerlike wese tot oordadige sprokies mooie eenvoud te verwesenlik.
Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Emmarentia jou gedig is so relevant op die tydstip van my lewe en ek dink baie van ons wat nie ons drome verwesenlik het tot op hede en regtig hunker na tyd.
dankie
alet