Afrikaans
Afrikaans, ´n rooibokkie;
sag en sensitief, spring-spring
woord na woord
deur die blond en blou van ons volk
om verhale te vertolk
Afrikaans, ´n olifant;
grof en groot, trap kraak-kraak
tussendeur beelde van
bome, klowe, valleie…
Afrikaans – ons éie
Afrikaans, die maan;
dimensioneel, rond in jou mond
in Afrika waar jy staan
hiér kom jou magiese geluide vandaan
hoe mooi skyn jy op die stil, donker laan
Afrikaans, die Strandloper
die ossewa,
die Verskroeide Aarde,
die honger maag,
die boer wat waag
die Guerilla
die Vrede
die hond wat blaf
by Ingrid Jonker se graf,
die selfportret van Breytenbach,
sy woorde wat mág
– nes die André P. Brink
wat abstrak kan dink,
die Bos woorde waarin Stef besef
hoe mooi is die klanke wat sy ore tref
Afrikaans, die Voëlvry-vuis
van Koos Kombuis,
die Valiant Swart
wat kom klop aan jou hart
Afrikaans, die ruk en rol,
die gees en vlees van Kerkorrel …
(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za)