Gedigte van Kababbel

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za

Die oOg

akronieme kopkaarte
annekseer lamppale, en strate
pape op plakkate
die gepeupel se mandate
ideologies verward
`n glimlag is grynslag,
belofte `n bluf
hipokriete kosmopoliete
proteges wat vlug
apokriewe traktate
dien geen nut
fenotipe komplikate
autrefois acquit
troglodiete simbiote
al die faraos se idiote
honger, nat, en verstote;
Afrodiete sonder siel
patriote, sielsgenote,
korruptenaar en klug
by die anatoom gebieg
van die reënboog se sug
grafskifte wat lieg
dra swaar op jou rug, en
toe buig jy die knieg
alleen teen die sweer
abdikeer is geen-weer-probeer
vir jou het die haan gekraai,
daai volstruisdans, en skalpelkus
het sommer so tiekiedraai
jou kop laat waai;
daarby het jy berus

Hoop word bloot `n wens,
die kans wat ongeduldig wag
om konsessie te verkry
daai vark te kan slag,
want die pasga is verby

Dis winter, wèèr …

Buite jaag die winterwind
skarrel speel-speel soos `n kind;
skieptou spring ook blare rond,
bruin, oranje, ligbruin, bont

Buite tas die winterwind
klou-klou aan jou neus se punt;
wissel weer sy rigting rond
skuifel goggas op die grond

Buite lek die winterwind
streel-streel, koel soos mint;
klits ook hy my wasgoed rond
proe die Stay-Soft in sy mond

Buite klets die winterwind
lag-lag kry hy jou gevind;
kil gooi hy sy woorde rond
iewers praat hy met my hond

Buite dans die winterwind
soek-soek hy `n warm vrind;
alleen swerf hy maar oral rond
grimmig, grynslag, gru verwond

Buite sluip die winterwind
kamma-kamma kuis verbind;
kundig klap hy kleefkruid rond
druipstert deur die oggendstond

Buite flirt die winterwind
vry-vry na `n selfoonkind;
fluister fabels valse front
sit warm woorde in jou mond

*

Buite sif die winterreën
plas-plas, saggies om my heen;
verlange, in die winterweer,
so bitter, – baie, – besig, – seer;
teer vir my my kammaland
loop ek en jy nog hand-aan-hand;
sal jy tog bly, net hierdie keer,
al sê jy nee,
vir ewig sal ek weer probeer

Kerslig vir ‘n Dromer

Uit die amber van die plasma
bo-aan my kers se punt
verlaat speelse blink mirages
die kerslig se veilige ring,
want hulle soek my
deur die vonkels
in die bodem van my glas
Verlustig dans die pêrelmaagde
net so `n tongpunt se ver
in die fancy Donkerbok se kleur,
maar om hulle te kan Frence-kiss
oor die afstand van daai mate
is hopeloos om te wens
Gevolglik verwaas hul in my staar
soos my gedagte wees raak
leeg gevul Verlate vind
nes Viagra op `n Valium-trip
En my spookskip skielik sink
met die glimlag
sigbaar deur die boeppens in my hand,
só werlik en só waar,
of sy`s dalk net `n illusie
in die emulsie
van kerslig, te veel Donkerbok, en glas

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar