Pelikaan
Ek is ʼn pelikaan van die woestyn.
Ek het geword soos ’n uil op die puinhope.
Verlatenheid het die plek geword waar U praat.
Eensaamheid die geselskap vir my verwoeste hart.
Ek is ’n pelikaan van die woestyn.
Onrein se vere soos ontelbare sand.
Ek het geword soos ’n uil op die puinhope.
Isolasie die deuntjie op my rommel.
Wanhoop se koue in die nag maak my dor.
Eensame wese tuis op my bouval.
Sonder vriende, uitgehonger vir liefde maar bar.
Agtergelaat as gevolg van myself en weggegooi.
U het die pelikaan geword in my plek.
My eensame woestyn het U deurgeloop.
My verlatenheid vir U self aangetrek.
Verander die denke van hierdie pelikaan, ek wil ook wees soos ʼn swaan.
Loof die Here
Met ekstatiese viering loof ons U Naam.
Met ons hele wese sing ons almal saam.
Nooit kan ons U wonderdade ignoreer.
Steek jou hande uit in danksegging.
Verstand, begeertes en hart in aanbidding.
Want U los ons nie agter vir verwaarlosing.
Aan U behoort ons harde triomfantlike lof.
Wanneer ons, ons gevoelloosheid los.
U hande werk kan niemand verontagsaam.
Loof die Here
O my siel
En vergeet geeneen van Sy weldade.






Enkel kruis
Skemerson se strale verdoof die helder lig.
Donker staan die kruis uit, op die swart berg van my hart.
Die skemer kleure van gevoelens, geverf deur liefde, verlange en seer, sit sag in die agtergrond van wasige, traan bevlekte wolke.
In die verlate hoeke van my siel, neurie U woorde:
Neem op jou kruis en volg my.
Donker kruis van eensame verwerping, waar aardse liefde nooit kan groei, met trane wat ingehou word, staan jy tog regop in jou seer.
Diep geplant in die rots van my bestaan, vasgehou deur onbreekbare krag.
Storms van alle kante waai teen my vas, tog, in U bly ek staan.
Gemengde seisoene verweer die stukkies van lank gelede.
Tog bly ek regop, gewortel in die rots van ewigheid wat nooit vergaan.
Ek juig in my skemer uur, wag die donker in, met onverskrokke geloof.
In die verstikkende donker, besluit ek, enkel kruis, om te volg waar U my lei.
Water Vlinder
Diep is die water van die wêreld daar buite.
Stormagtige woorde wat teen die duine van jou hart slaan.
Besoedelde water wat harte en ore vervuil.
In die donker diep water sit hy dag vir dag, in sy bitterheid.
Swem hy in die verrotte alge van sy verlede.
Vasgevang in die stilstaande kokon van herinneringe en smart.
Trane wat nêrens val, maar deur muskiete en vlieë weggedra word.
Roer die dooie vuil water my God, dat die sonlig beendere kan voed.
Laat U lewende water die kokon uit die dieptes spoel.
Helder vloeiende water en sag deurdringende liefde, maak die harde kokon van bitterheid en seer weer sag.
Die skoenlapper wat binne jou, soveel jare wag, begin die water van verligting en vryheid smaak.
Vlieg water vlinder, sprei jou vlerke oop.
Vlieg na die lig, na geluk en liefde.
Vlieg en versprei jou lewende water en deel die nektar wat genesing bring
(16/03/2022)
Heuwels
In die skadu van die heuwel wil my hart rus vind, daar waar dit donker is, breek dit meer.
Hoeveel keer Here moet ek die pad stap van tydelik geluk, net om weer in die gruwel van lee woorde op die klippe te val.
In die vroeë oggendson sien ek hoop, uiterlik is niks verkeerd, my glimlag bereik my oë en verhelder my gesig.
Net U sien deur na my onderdrenge gewaad, die trane wat loop – wat nie deur menslike oë gesien word nie.
Die middagson skroei neer op die heuwels van my hart, die valse hoop en seer brand ongenadiglik op my neer.
My liggaam laat niks blyk-maar tog sien U my skroeiende vlamme wat brand en die trane blus nie die verterende seer.
Ek smag na ’n koel bries in die snikkende hitte, lewende liefde wat lug bring in verkoolde murg.
Hoekom is die mens se liefde net tydelik? Waarom vertrou ons op ’n verkoelende bries as U self die wind regeer?
Liefde waai altyd, soms sag in versoening, soms gewelddadig in aksie – liefde het verby my gebrande hart gewaai.
Ek roep na U, na U wat die wind lei, waai asseblief deur my, genees die vlamme van valse hoop-blus die lee woorde van vertroue.
Waai weg die dooie grys as, van menslike liefde.
