PAARDEVLEI – In ’n ontwikkeling wat mediese wetenskap en gesonde verstand gelyktydig uitdaag, vier Akkedis op Saterdag 24 Januarie 2026 hul 104de verjaarsdag. Die venue? Flagstone Wine, Paardevlei. Die tyd? 13:00 tot 18:00. Die verwagting? Dat niemand betyds huis toe gaan nie.

Die plan is eenvoudig: Afrikaanse musiek, goeie wyn en genoeg rock-’n-roll om ’n kelder te laat bloos. Akkedis, bekend vir hul ewige jeug, geharde lewers en ’n historiese verbintenis met partytjies wat “per ongeluk” tot sonsopkoms duur, word vereer met ’n fees wat hul leefstyl eer aandoen: luid, lank en goed deurdrenk.

Op die verhoog klim Die Kaalkop Waarheid (DKW), Churchil Naudé, Hanru Niemand, Die Hotel Henry en Jackie & Riku Lätti van Die Wasgoedlyn.

Flagstone Wine is natuurlik die ideale plek: wyn aan die een kant, musiek aan die ander, en Akkedis iewers tussenin besig om te verduidelik hoekom 104 eintlik nog jonk is as jy dit reg aanpak.

Kom vier saam ’n verjaarsdag, ’n nalatenskap, en ’n band wat bewys het dat Afrikaanse rock nie oud word nie – dit fermenteer net beter.


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply