PLEK is die KKNK 2026 hoofuitstalling met nuwe werke deur elkeen van die KKNK se vorige feeskunstenaars, asook werke deur twee voormalige feeskurators vanaf 1996 tot nou. Hierdie omvangryke uitstalling bring ’n ongelooflike groep kunstenaars byeen in hierdie plek, die Klein Karoo, en is ’n uitsonderlike wyse om die 30ste fees te vier! Die uitstalling is in die geskiedkundige Prince Vintcent-gebou in Oudtshoorn en strek oor verskeie uitstalruimtes en twee verdiepings.

“Die situasie was soos volg: Die doel van die teken was om ’n plek te merk, maar terselfdertyd het dit beteken dat daar in daardie plek dus ’n teken was (iets by verre meer belangrik, want daar was verskeie plekke, maar daar was net een teken) en ook, tegelykertyd was die teken myne, ’n teken van my, want dit was die enigste teken wat ek ooit gemaak het en ek was die enigste een wat al ooit tekens gemaak het… Meegevoer deur die kante van die sterrestelsel, het ons wêreld koers gehou deur verafgeleë ruimtes en die teken het gebly waar ek dit gelaat het om die plek te merk, en op dieselfde tyd het dit my gemerk, dit het my bewoon…” – Italo Calvino, The Complete Cosmicomics

Plek kan verwys na ’n spesifieke ligging in die wêreld, byvoorbeeld Oudtshoorn: ’n Baken met fisieke eienskappe en meetbare ruimtelike proporsies, maar terselfdertyd kan dit ’n plekhouer wees. Dit hou ruimte – vir kulturele, geografiese en sosiale kontekste.

Plek en identiteit is verweef en verwys na hoe mense hulself in verhouding met die omgewing sien. Dus word ’n blote ligging ’n plek deur geleefde ondervindings en herinneringe.

Ligging en plek is verbind, maar as “ligging” gedefinieer kan word as die “wat en waar”, kan “plek” omskryf word as die “hoe en hoekom”.

Plek is die wyse waarop ons betekenis heg aan ligging. Soms kan die spanning tussen ’n psigologiese sin van plek en die konkrete aspekte van ’n fisieke plek teenstrydighede op geografiese, emosionele, kulturele, sosiale, psigologiese, filosofiese of virtuele vlakke tot gevolg hê, maar meer dikwels is heelwat van hierdie teenstrydige gelyktydig teenwoordig.

MET Theo Kleynhans (kunstenaar en ’n voormalige feeskurator), Sandra Hanekom (kunstenaar en ’n voormalige feeskurator), Jan Vermeiren (1996), Hardy Botha (1997), Willie Bester (1998), Erik Laubscher (1999), Wendy Malan (2000), Piet Grobler (2001), Wim Botha (2002), Claudette Schreuders (2003), Lien Botha (2004), Minnette Várí (2005), André Naude (2006), Judy Woodborne (2007), Lawrence Lemaoana (2008), Hylton Nel (2009), Lucas Thobejane (2010), Michaella Janse van Vuuren (2010), Helena Hugo (2011), Handspring Puppet Company (2012), Diane Victor (2013), Gordon Froud (2014), Louis Janse van Vuuren (2014), Willem Boshoff (2014), Berni Searle (2015), Hanneke Benadé (2016), Johannes Maswanganyi (2018), Collen Maswanganyi (2018), Barbara Wildenboer (2020), Mary Sibande (2022), Liza Grobler (2023), Colbert Mashile (2024) en Henk Serfontein (2025)

DATUM(S)
28 Maart 2026, 09:00
29 Maart 2026, 09:00
30 Maart 2026, 09:00
31 Maart 2026, 09:00
1 April 2026, 09:00
2 April 2026, 09:00
3 April 2026, 09:00
4 April 2026, 09:00

Lewer kommentaar

Leave a Reply