Inderwaarheid weet ons baie min oor die legendariese geskiedkundige figuur, Sjaka Zulu.
Daar word dikwels na hom verwys as ’n gesaghebbende dog ongevoelige krygsman en strateeg – uitvinder van die kort assegaai. Maar sy lewe verteenwoordig ook dié van asielsoeker, vlugteling, digter, weeskind, ’n sieklike man wat wegkwyn weens ouderdom. ’n Slagoffer van kolonialisme.
Kon hy regtig ’n gloeiende vuur met sy kaal voete uitdoof en was visvang sy stokperdjie? Het hy inderdaad skaak gespeel, en met ’n blitsige motorkar in voorstede rondgejaag? En op ’n goeie dag vir dood op die snelweg gaan lê?
In dié vertaling van Alfred Schaffer se bekroonde Nederlandse bundel, Mens dier ding, ondersoek die digter die mite van Sjaka deur kort dagboekinskrywings, monoloë, herinneringe, briewe en dagdrome. Sjaka word vergestalt as ’n kleurryke figuur; die mites rondom sy geskiedenis word op die kop gedraai en ondermyn, en eindelik, soos almal van ons, word hy akteur in sy eie lewensverhaal.
’n Poëtiese kragtoer, en voorwaar ’n hoogtepunt ter plaatse dat dié vertaling (deur Zandra Bezuidenhout) eindelik in Afrikaans sal beskikbaar wees.
Mens Dier Ding / deur Alfred Schaffer — Human & Rousseau, 18 November 2018 — 136 p. ; sagteband. — ISBN 9780798178143 : R 245.00
Mens Dier Ding
Bettie Blom
4 Desember 2018