Met Vlamsalmander bevestig Hennie Aucamp sy status as een van die vernuftigste digters in Afrikaans.
Talle van die verse in die eerste twee afdelings steun op kulturele en historiese verwysings, met verse oor die mitologie, kunstenaars, kunswerke en skrywers. Hierdie “kultuurverse” speel dikwels in op die persoonlike, die liggaamlike, die liefde en die erotiese (“Gelykenis”, “Drie verse oor die liefde” en “Paradystoneel”).
Aucamp is egter ook ’n skerp waarnemer van sy omwêreld, of dit nou die stad is soos in die reeks “Seepunt-suite”, of die natuur wat in verse soos “Die kleiner heelal” en “Vier bome” ter sprake kom.
Besinning oor die skryfproses word in die vyfde afdeling gevind. In die laaste twee afdelings verras die drie langer, besinnende gedigte, onderskeidelik oor Ezra Pound (“Canto”), New Orleans (“Blues vir ’n verdronke stad”) en kommer oor die voortbestaan van Afrikaans (“Die wederkoms: variasies op temas uit Raka”).

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
7 Desember 2009
