Toe ons nou hier in Clanwilliam begin skool gaan en dit hoërskool dae word, het ek nou maar altyd in die middelste ry, agter in die klas gesit. Gewoonlik met twee groot ouens voor my, sodat ek kan kattekwaad aanvang. Van vanmôre tot vanaand.
Eendag het ons ‘n ou onderwyser gehad, wat ons kom pak gee het, omdat die ouens langsaan geraas het. Ons was natuurlik verbitterd oor die gebeure.
Ek het toe pynlik netjies van die grootste dubbele dorings gaan optel in die veld. Vyf van hulle het ek op hierdie perd se stoel gesit. Netjies, sodat hy nie sien nie en die stoel so effentjies uitgetrek.
Hy het die gewoonte gehad as hy inkom, kom staan hy by sy stoel en sê: “Môre klas!” “Môre Meneer!” “Sit klas”, en dan gaan sit ons en dan gaan sit hy natuurlik ook. Op hierdie oggend kom die perd toe weer in. Toe hy sê sit klas, toe gaan sit ons en hy trek daai stoel so entjie vorentoe en toe gaan sit hy.
Die sit en die opstaan was soos een man, hy vlieg op, want toe slat daai vyf, ses dubbel dorings hom hier van onder af. Die ou skiet soos ‘n pyl uit ‘n boog, reg in die lug op. En hy kom weer af en hy vryf. Daai tyd toe kan ek natuurlik nie my lag hou nie en “ka-ka-ka.” Toe ek lag, toe lag die hele klas. Maar die ou het my natuurlik geherken.
Die ou storm toe daar op my af, lig my op aan my nuwe baadjie nogal. Hy was ‘n groot perd. Die ou blaas hier in my gesig en skel my uit. Hy vat my daar na die hoof toe. En daar kry ek weer ses van die bestes. Dit was egter vir my ‘n heerlike gebeurtenis en die hele klas het dit vreeslik geniet. Hulle het maande lank daarna nog daaroor gesels.

