Twee vriende loop mekaar in die straat raak en die een sê vir die ander: “Ek is op pad om ’n hond te koop!”
“’n Hond te koop?” vra die ander een verbaas. ”Maar waar op aarde gaan jy die dier aanhou? Jy woon dan in ’n woonstel op die tiende verdieping!”
“Wel, in die somer gaan ek hom op die balkon los.”
“En in die winter dan?”
“Dan sal ek hom maar laat inkom.”
“En die stank dan?”
“Ag wat, die hond sal maar daaraan gewoond moet raak!”

*****

Dis laataand en ’n dronkie kom uit die kroeg geslinger terwyl hy ’n hond se leiband agter hom aansleep. Maar pleks van ’n hond aan die leiband, is ’n ongerookte sigaret aan die band geheg.
’n Polisieman sien die spektakel en kom vra die dronkie: “En nou, ou toppie, wat dink jy doen jy?”
“Wie ek, konsjtabel?” lispel die dronkie. ”Ek neem my vrou sje nuwe sjkoothondjie vir ’n wandeling, disj wat ek doen.”
“Skoothondjie se voet!” sê die konstabel. “Jy’s besig om ’n sigaret agter jou aan te sleep.”
Waarop die dronkie geskok antwoord: “Haai, konsjtabel, disj versjkriklik. Dan het ek mosj my vrou sje poedel gerook!”

*****

Eendag sien ’n kêrel ’n advertensiebord voor ’n huis. Op die bord staan: “Pratende hond te koop.”
Hy lui die deurklokkie en die hond se eienaar maak sy verskyning en sê aan hom dat die hond in die agterplaas is.
Hy loop toe na die agterkant van die huis en daar sien hy ’n brak wat op ’n polletjie gras sit.
“Praat jy?” vra hy.
“Natuurlik,” sê die brak.
“Dis interessant. Vertel my meer. Wat is jou storie?”
“Wel,” sê die brak en kyk hom stip in die oë, “ek was nog maar net ’n jong brakkie toe ek al besef het dat ek hierdie vermoë besit, en ek wou graag ’n speurder word. Maar toe kom die Departement van Buitelandse Sake van my te hore en hulle besluit ek is die volmaakte internasionale spioen. Kort voor lank stuur hulle my toe van land tot land waar ek allerhande hooggeplaastes afgeluister het sonder dat dié ’n benul gehad het dat ek kon begryp wat hulle sê. Sedert James Bond was daar nog nie ’n geheime agent soos ek nie. Ek was ag jaar lank ons land se waardevolste spioen. Maar toe word ek moeg daarvoor en keer ek terug om ’n fabriek te stig wat hondekos vervaardig, wat toe ook mettertyd die mees geslaagde onderneming in sy soort in die land was. Ek is selfs bekroon as die Knorrigste maar Suksesvolste Entrepreneur van die Jaar! Ek het ook ’n dierbare teef van ’n vrou gehad en baie jong hondjies, maar nou is ek net ’n pensionaris.”
Die kêrel slaan sy hande in ongeloof saam. Hy haas hom terug na die brak se eienaar en vra hoeveel hy vir die hond wil hê.
“Tien rand,” sê die eienaar.
“Tien rand?” vra die kêrel verbaas. “Hierdie hond is die grootste fenomeen wat ek nog nog ooit teëgekom het. Hoe op aarde kan hy vir jou slegs tien rand werd wees?”
“Man,” sug die eienaar, “ ’n mens kan nie ’n woord glo wat dié ou drommel sê nie!”

*****

’n Talentsoeker loop in die straat af waar hy ’n man en sy hondjie teëkom. Die hondjie is besig om te sing – alte pragtig!
Die talentsoeker is so verstom dat hy ’n hele paar oomblikke lank sy oë staan en knip om seker te maak dat hy nie droom nie.
“Kom asseblief na my kantoor toe,” pleit hy by die jong hond se baas toe hy tot verhaal kom. “Ek wil ’n kontrak met jou en hierdie wonderlike hondjie sluit.”
Die man bring sy hond na die talentsoeker se kantoor. Die hondjie is net besig om die laaste paar note van La Donna E’ Mobile te sing (en soos Luciano Pavarotti te klink), toe ’n groot teefhond die kantoor binne bars en die hondjie aan sy nekvel beetkry. Daarna hardloop sy by die deur uit terwyl sy hom in haar bek dra.
Die man trek sy skouers op en sug. “Dit help nie,” sê hy, “dis sy ma daardie. Sy weier dat hy ’n loopbaan in die vermaaklikheidswêreld volg. Sy wil hê hy moet ’n dokter word.”

*****

Klein Koos oefen in die sitkamer met sy viool terwyl Pa Koos in sy slaapkamer probeer om ’n uiltjie te knip.
Die gesin se hond lê op ’n matjie voor Pa Koos se bed, maar elke keer wanneer Klein Koos ’n ekstra hoë noot uit die viool wring, vlieg die hond regop en tjank iets aller verskrikliks.
Pa Koos verduur die hond en die viool so lank as wat hy kan. Toe knak hy, spring vervaard orent en gil soos ’n besetene bokant al die lawaai uit: “Nee vrek, Klein Koos, kan jy dan nie iets speel wat die hond ken nie?”

*****

’n Man loop in die park waar hy ‘n vrou op ‘n bank sien sit met ‘n hond wat langs haar lê. Hy is baie lief vir honde en wil die hond streel, maar eers vra hy haar: “Mevrou, byt jou hond?”
“Nee, my hond byt nie.”
Die man vryf oor die hond se kop, maar die dier hap sy hand dat die bloed loop. Woedend skree hy vir die vrou: “Ek dog jy sê jou hond byt nie!”
“Hierdie hond,” sê die vrou koel, “is nie my hond nie.”

*****

Sannie gee vir haar ouma ’n lekkertjie. Haar ouma is ook nie links nie en steek die stukkie soetigheid dadelik in haar mond.
“Mmmmmm,” sê sy, “maar dis darem ’n lekker lekker wat vir vir my gegee het Sannie.”
Sannie frons. Daar is iets wat sy nie kan kleinkry nie. “Dis darem snaaks dat daardie lekkertjie vir ouma so lekker smaak,” sê sy. “Toe ek dit netnou vir die hond gegee het, het hy dit dadelik uitgespoeg!”

*****

Die posbode staan met ’n pakkie voor die deur, toe ’n blaffende hond skielik om die hoek van die huis aangestorm kom. Kerplaks! laat die posbode die pakkie val. Hy snel soos ’n pyl uit ’n boog deur die voortuin en spring soos ’n hoogspringer oor die voorhekkie.
Intussen gaan die deur oop en die vrou van die huis sê laggend: “Haai, posbode, blaffende honde byt nie, jy ken mos darem die spreekwoord, of hoe?”
“Kan so wees, mevrou” hyg die posbode, “maar wie sê daai hond ken die spreekwoord?”

*****

’n Boerboel is besig om in vullisdromme rond te snuffel. Hy kan egter beswaarlik beweeg, want hy balanseer terselfdertyd ‘n telefoonpaal op sy nek.
‘n Windhond kom daar aangewaai en vra: “En dié affêre op jou nek nou?”
“Dis om die wolwe weg te hou,” sê die boerboel.
Windhond: “Jy’s besimpeld, man, daar’s mos nie wolwe in Suid-Afrika nie.”
Boerboel: “Wys jou net hoe goed dit werk.”

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar