My pa het altyd die storie met smaak vertel: Op Kamieskroon in die verruklike Namakwaland bied die Laerskool elke jaar die Kersspele aan. Die juffrouens moet besluit wie van die telge speel wie.
Josia Agenbach is die troonopvolger van Oom Japie Skerpmes, die rykste boer in die distrik en werfetter de luxe. Kan nie Josef speel nie, kan nie wyse man speel nie en kan ook nie toe vertrou word met skaapwagter nie. Engel gaan nie werk nie.
Dus word hy ge-cast as een van die herberg eienaars. Easy peasy. Hy moet net verduidelik dat hulle vol is vanweë die sensus. Hy doen dit in die dress rehearsal sonder voorval. Die groot aand breek aan en Pa Japie en Ma Jacomiena sit in die voorste gestoeltes. Baie trots. Die bodeur swaai oop en en Josia loer oor die onderdeur. Josef doen sy navraag oor verblyf. Die internet was maar stadig in daai dae. Maar boeta die pressure is op ons klein held want sy ma hulle is die heel gasvryste mense in die distrik.
Hy sê toe en ek sweer: “Ongelukkig is ons heeltemal vol … Maar vakhet hoekom kom julle nie in vir ‘n vinnige dop nie?”
