Tydens die Anglo-Boereoorlog het Tant Miena en haar twee beeldskone niggies op ’n plaas in die Vrystaat gewoon. Die niggies was bloedjonk, sjarmant en nog nooit getroud nie, in teenstelling met Tant Miena. Tant Miena was ’n oujongnooi, ’n uitstekende boer en onversadig van gees, maar “nie besonder mooi nie”. Selfs die belofte van ’n groot plaas kon geen man oorhaal om in haar rigting te kyk nie.
Op ’n dag daag daar drie Kakies op. Hulle het die plaas en die vroue net een kyk gegee en daar en dan aangekondig dat hulle nou moeg is van die oorlog, die vroue gaan trou en op die plaas gaan bly.
Die jong meisies was baie ontsteld en bang, maar in hul ellende onselfsugtig. Hulle verklaar toe dat hulle verstaan oorlog is oorlog en dat hulle bereid is om hul wrede lot te aanvaar, maar dat die soldate asseblief tog hul tannie moet spaar van dié ellende en haar nie trou nie.
Op die punt val Tant Miena egter in: “Nie so vinnig nie meisies!” Sê sy terwyl sy leepoog vir die een Engelsman staar. “Soos julle sê, oorlog is oorlog en julle tante moes al lánkal haar deel bygedra het.”