Kunsversamelaars sien uit na die Strauss & Co veiling later die maand oor veral twee werke; van Sydney Kumalo en Alexis Preller.

Die veiling op 13 November 2017 sluit ook belangrike werke in van Gerard Sekoto, Irma Stern, William Kentridge, JH Pierneef en Karel Nel.

Sydney Kumalo se “Madala VI” is ’n groot en baie skaars beeld uit dié beeldhouer se Madala-reeks. Daar word verwag dat die stuk naby R1 miljoen gaan kom op die veiling.

Daar is ook groot verwagtinge oor die onverwagse opwagting van Alexis Preller se olieverfskildery “Fleurs du Mal”. Die werk is vir die eerste keer in 1946 uitgestel en daarna is aanvaar dat dit vernietig is in ’n brand. Na verwagting kan dit tot R6 miljoen haal. Preller se “Flower King” en “Sea Amphora” is ook op die veiling. “Flower King” kan deur die R3 miljoen kerf breek en “Sea Amphora” kan dalk R2 miljoen haal.

Fleurs du Mal - Alexis Preller
Fleurs du Mal – Alexis Preller

Aanhangers van Irma Stern gaan bie vir “Still Life with Fruit, Urn and Pot” (1948 – ±R3 miljoen), “Still Life with Poinsettias” (1934 – ±R6 miljoen), “Freda in Khaki Dress” (1943 – ±R5 miljoen), “Freda with Roses” (1943 – ±R5 miljoen).

Een van Gerard Sekoto se beste werke, “Women in the Country” (±R3 miljoen), is ook op die veiling. Sy “The Pink Road” is ook te koop en sal na verwagting vir meer as R1 miljoen verkoop.

Die meester JH Pierneef word op die veiling verteenwoordig deur “Uitgebreide landskap” en “Akasias in die veld”. Jy sal met ongeveer R2 miljoen in jou sak moet gaan indien jy op een van hulle wil bie.

William Kentridge word op die veiling verteenwoordig deur “Highveld Landscape” en “Drawing for Il Sole 24 Ore.

Die veiling vind op 13 November 2017 plaas by die Wanderers-klub in Johannesburg.

Lewer kommentaar

Leave a Reply