#Vryfees2013 Kultuurkuns op sy beste in Batho

‘n Gulde geleentheid wag op 6 Julie vir Vryfees-gangers wat ’n ware Suid-Afrikaanse ervaring wil beleef. Inheemse kuns, danse, musiek en interkulturele geregte word in die Township Arts Experience saamgevat waarvoor inwoners van Batho, Bloemfontein, hul huise se deure oopgooi.

Dié kunservaring is gekonsentreer in Makgothi-straat, dieselfde straat waarin die Mapikela-huis is waar die ANC gestig is. Dit is ook oorkant die Batho-polisiekantoor.

Feesgangers kan van huis tot huis loop om die aanbod van visuele kuns en handwerk te sien terwyl hulle langs die pad met musiek en dans vermaak sal word. Spesiale opvoerings en verskeie kossoorte sal die dag nog interessanter maak.

“Ons hoop om ’n kunskultuur te bevorder wat dié woonbuurt en die stad sal saambind. Ek beskou dit ook as ’n gedeelde ervaring waardeur maatskaplike samehorigheid geskep kan word,” sê Roxanne Konco, bemarkingsbestuurder van die Vryfees.

Die projek is gebou op samewerking tussen kunstenaars en kurators, huiseienaars en organiseerders, die gemeenskap en besoekers. Danksy die ondersteuning van organisasies soos Hansa, ITEC, Absa en Sove-reign is dié wonderlike geleentheid ’n moontlikheid.

Gratis busvervoer word van die Kovsie-kampus na die township verskaf. Die bus vertrek om 10:30 en 12:30 van die taxi-staanplek.

Vir meer inligting en plekbespreking, bel Konco by 079-915-4528. Parkeerplek is beskikbaar by die Sehunelo- Sekondêre Skool vir mense wat hul private voertuie gebruik.

Vryfees 2013

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar