Die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting vier Nelson Mandeladag vanjaar met ’n spesiale projek. In samewerking met die CTMA (Cape Town Music Academy) en Die Burger stel die fees vir Mandela dag 2020 ’n spesiale nuwe weergawe van Amanda Strydom se lied, “A Child in a Faraway Land (Nelson Mandela Tribute.) bekend. ” Thandeka Dlala en Lumanyano “Unity” Mzi van The Unity Band en Frazer Barry sing saam met Strydom in dié spesiale weergawe van die liedjie.
Amanda Strydom vertel dat sy “A Child in a Faraway Land” in 1994 geskryf het, die jaar toe Madiba as president ingesweer is. Sy het gereeld tyd saam met die staatsman deurgebring. “Hy het my geleer wat ware deernis en vergifnis beteken,” sê sy. Amanda se gedagtes is in hierdie tyd veral by Suid-Afrikaners wat as gevolg van armoede nóg swaarder deur die pandemie getref word.

Frazer Barry het Madiba in 1993 ontmoet tydens die oudpresident se besoek aan Genadendal. “Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek was ’n matrikulant en het as jong Suid-Afrikaner op daardie oomblik gevoel dat wonderlike dinge moontlik is. Dit was vir my ’n eer om lirieke te kon bydra vir hierdie wonderlike lied van die legendariese Miss Mandy.” Unity Mzi vertel dat hy geeerd voel om deel te wees van `n video wat generasies saambring om Madiba se droom van eenheid en diversiteit voort te leef. Thandeka Dladla voel dieselfde: “Dis inspirerend om deel te wees van `n projek wat, alhoewel dit ons vrese aanspreek, fokus op hoop vir `n beter toekoms.”
Die kunstenaars in die video sal saam met ander gesoute kunstenaars deel wees van ’n grootskaalse produksie wat in 2021 by die Suidoosterfees debuteer. Die video bied ’n voorsmaak aan van waarna uitgesien kan word in dié produksie wat deur die CTMA vervaardig word.
Volgens Vicky Davis, vervaardiger en programbestuurder van die CTMA, ‘n nie-winsgewende maatskappy wat geleenthede skep vir kontemporêre musikante, sê: “Amanda, Frazer en Lumanyano en Thandeka van die Unity Band is uiteenlopende kunstenaars en verteenwoordig elk ‘n ander genre en generasie van die SA musieklandskap. Hulle bevorder almal sosiale samehorigheid in hul kuns. Die taal van musiek verenig mense. Hierdie unieke verwerking van Amanda se gebedslied bring op dié manier hulde aan Madiba.”
Jakes Gerwel was ’n stigsterslid van die Suidoosterfees en hy het jare lank as voorsitter van die feesdireksie gedien. Toe Madiba president was, was Gerwel sy regterhand en hooftoespraakskrywer in die presidensie. Met hierdie sinergieprojek wil die fees die fokus op die mag van woorde laat val. Theo Kemp, uitvoerende hoof van die Jakes Gerwel Stigting, sê: “Professor Gerwel en Nelson Mandela het wêrelde getransformeer deur vreedsame onderhandelinge. Die waarde van woorde om die wêreld ingrypend te verander, kan dus nie genoeg beklemtoon word nie.”
Samewerking tussen die Suidoosterfees en die stigting wat na Jakes Gerwel se nalatenskap omsien, kom al ’n lang pad. Frazer Barry is vanjaar ’n mentor by ’n liriekskryfskool wat vir die eerste keer deur die fees en die stigting aangebied word. Vyf opkomende liriekskrywers is gekies om aan die mentorskapprogram deel te neem, en hulle talente word vir drie weke lank by die stigting se Paulet-huis in Somerset-Oos geslyp.
Die jong liriekskrywers sal ook deel wees van ’n grootskaalse produksie wat in 2021 by die Suidoosterfees debuteer.
Die inisiatief vier ook die gedagte wat op Nelson Mandeladag uitgedra word, naamlik dat elke mens die vermoë het om ’n bydrae te kan lewer wat van die wêreld ’n beter plek maak. Johann Maarman, direksielid van die Suidoosterfees en Die Burger-eindredakteur, sê: “Madiba het met onselfsugtige seën sy vryheid vir ons opgegee, en hy was ’n vegter vir menswaardigheid, vrede en versoening. Hy was ’n baken van vergifnis en hoop, en onder uiters moeilike omstandighede kon Suid-Afrika altyd koelte vind onder die groot Madiba-boom.”
Die oorspronklike weergawe van “A Child in a Faraway Land” is in 2008 ingesluit op Strydom se album Kerse teen die donker. Die nuwe opname is in Stellenbosch by Sunset Recording Studios opgeneem onder leiding van die bekende baskitaarspeler en vervaardiger, Schalk Joubert, ook van CTMA.