Die Suid-Afrikaanse Staatsteater in samewerking met Theatrerocket bied aan die treffer klugkomedie, Koekeloer! in Julie-Augustus 2020 aanlyn.
Koekeloer! is ‘n eg Suid-Afrikaanse klug uit die pen van Nagtegaalwenner, Braam van der Vyver, wat beloof om ‘n onvergeetlike skaterlag-ervaring te wees. Na suksesvolle speelvakke in 2019 by Innibos, Vrystaat Kunstefees en Aardklop is die produksie nou by die Suid-Afrikaanse Staatsteater se YouTube channel.
Koekeloer! speel af in ‘n woonstel in Stellenbosch tydens die finale rondte van die Koekedoor-kompetisie. Die twee finaliste, Marie Coleské, ‘n oujongnooi van Koekenaap, en Marié Kok, ‘n lingerie model van Ruimsig, moet sake in die finaal uitspook en mekaar uitoorlê met hulle vernuftige (en by tye agterbakse) bak-en-brou-planne.
Voeg daarby ‘n onbeholpe klouterdief en privaatspeurder, ‘n jaloerse bokskampioen, ‘n stuitige lingerie-ontwerper, ‘n statige predikant, ‘n omstrede boek en ‘n onderstebokoek, en jy het die ideale resep vir elke moontlike vermaaklike misverstand!
Veteraan-akteur Gavin van den Berg, wat in die 80’s bekendheid verwerf het as Jacques Rynhard in die TV-reeks Ballade vir ‘n Enkeling, vertolk die rol van Ds. Vilonel (Voëltjie) de Groot – ‘n man wat vinnig sy statigheid verloor wanneer hy met die fyner kant van sekere kledingstukkies te doen kry. Voor jy kan sê ‘mes’, is die spreekwoordelike koeël reeds deur die koek.
Die res van die rolverdeling bestaan uit gewilde akteurs, insluitend Ben Pienaar, Juanita de Villiers, Tiaan Slabbert, Roche van Blerk en die ATKV-bekroonde Èmil Haarhoff. Regie is deur Lihan Pretorius, bygestaan deur Johan van der Merwe.
Wie gaan die wenner van die kompetisie wees? Wie gaan kop verloor en watter jakkals gaan van kle(u)re verander? Wie nie koekeloer nie, gaan niks sien nie!