Die gewilde komedie, Wie hyg so? gaan Pretorianers gedurende Junie in die Suid-Afrikaanse Staatsteater laat skater. Die stuk is ‘n oorspronklike toneelstuk uit die pen van die voormalige wenner van die Nagtegaalprys, Braam van der Vyver. Die klug word deur die Suid-Afrikaanse Staatsteater, in samewerking met Left Foot Theatre Productions, vervaardig.
Wanneer die skugter jeugdiaken Christoffel van Wyk ‘n smeulende hygroman in ‘n vervelige kerkraadsvergadering skryf, begin die poppe dans. Die hygroman kom in die visier van die vermaarde uitgewer, Beulah Bosman, meesterlik vertolk deur Hannelie Rolfes. Hygromans wat deur mans geskryf word, verkoop egter nie. Beulah gee nie so maklik op nie. Sy besluit om die boek, getiteld Amelia, onder die skuilnaam Venus van Wyk uit te gee en kry die sepie-aktrise, Aurelia Oberholzer-Anderson, om vir die persona van Venus in te staan. Alles lyk onder beheer tot Aurelia se borsvergrotingsoperasie en die gevreesde boekresensent, Rintha Roelofse, sake deurmekaar krap. Rintha krap waar dit nie jeuk nie en Christoffel vertrek saam met sy predikant, dominee Zuurvogel, na die sinodesitting in Hartenbos. Dis juis in Hartenbos waar die dominee se ware kleure na vore kom en Christoffel se probleem nuwe afmetings aanneem. Om presies te wees, 36x24x36.
Die rol van die boekeredakteur, Beulah Bosman, word deur die ervare Rolfes vertolk. Sy is gereeld op die kassie en in films te siene en was onlangs in die spanningsreeks, Spoorloos, op KykNET te sien. Natania van Heerden, wat al met ‘n beste aktrise-toekenning deur die ATKV bekroon is vir haar vertolking van Mariana in Kruispad, speel Rintha. Sy was ook onlangs in die gewilde reeks Sara se geheim. Steffie le Roux skitter as Aurelia terwyl Zelda Roelofs wat al in verskeie sepies rolle gehad het, en onlangs in Deurnis Digitaal beïndruk het, die rol van die ywerige gesellin, Amelia vertolk. Die gevierde akteur, Gerben Kamper, speel die rol van dominee Zuurvogel. Kamper, wie se loopbaan oor 49 jaar strek, was vanjaar in Binnelanders op die skerm. In die onlangse verlede het hy onder andere rolle in Die Byl en Swartwater op TV asook in die film Klein Karoo 2, vertolk. Sy lang lys toekennings sluit ‘n erepenning vir sy lewenslange en uitmuntende artistieke bydrae tot die Afrikaanse teater van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in. Die rol van die jeugdiaken word deur die opkomende jong ster, Ruan Wessels, gespeel. Wessels, wat in Mei vanjaar ‘n Naledi toekenning as die beste jong opkomende akteur gewen het, is ook vanjaar in die gewilde eenpersoonstuk, Plesierengel, landswyd op die planke. Hy was voorheen in verskeie sepies te sien.
Die regie van die produksie word behartig deur Èmil Haarhoff en Johan van der Merwe. Beide is deel van die multi-bekroonde Deurnis projek wat met ’n Fiësta, ‘n ATKV-veertjie en KykNET se Blou Stoel toekennings vir innoverende werk spog. Haarhoff is ‘n akteur, regisseur, choreograaf en IDC gekwalifiseerde intimiteitskoördineerder wat gehore vir meer as ‘n dekade lank vermaak. Èmil was onder andere te siene in die films Vaselingetjie en Clan of the Cave Bear, asook in teaterproduksies insluitende Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat wat internasionaal getoer het, Peter Pan, Snow White, West Side Story, Deurnis: Anders, Bar(r)ok en Koekeloer. Hy is een van die stigterslede van Intimacy Practitioners South Africa, want sentraal gestaan het tot die daarstelling van die Protokol vir Intieme Inhoud vir televisie en rolprente in South Africa. Sy intimiteitskoördineering-krediete sluit Savage Beauty, Night Shift, Daryn’s Gym, Blurred Lines, The Estate en Lingashoni op Netflix in. Van der Merwe is bekroon vir sy werk as vervaardiger. Hy was een van die opdraggewende vervaardigers wat verantwoordelik was vir die vervaardiging van Die Reuk van Appels, Kamphoer en die Deurnis-projek. Hierdie produksies het verskeie pryse ingepalm.
Die klug is van 8 – 26 Junie in die Drama teater by die Suid Afrikaanse Staatsteater op die planke. Daar is aandvertonings om 19:30 van Woensdae tot Saterdae en middagvertonings om 15:00 op Saterdae en Sondae.
Besprekings kan by Webtickets.co.za gedoen word: https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1515260066 Kaartjies kos R130.
Kaartjiepryse vir studente, skoliere en pensionarisse is R80 en blokbesprekings vir 50 of meer mense is R100.