Amasiko

Amasiko is ‘n Nguni-woord wat “kultuur, tradisie en sosiale waardes” beteken, en is die naam wat gekies is om die samewerking tussen die elf vrouestemme van Cutt Glas en die Afrika Mamas, twee vroulike Suid-Afrikaanse a capella-groepe, te omskryf.

Cutt Glas het die Afrika Mamas genooi om by hulle aan te sluit in ‘n verkenning van die aard van die vrou uit ‘n Suid-Afrikaanse perspektief. Amasiko se premiére het verlede jaar tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees te Oudsthoorn plaasgevind, waar alle vertonings uitverkoop was.

Amasiko sluit liedjies soos die volgende in: “In the Jungle” (tradisioneel), “Meadowlands” (deur Miriam Makeba gesing), “Shosholoza” (tradisioneel), “Halala Afrika” (Johannes Kerkorrel) en “Thula Baba” (tradisioneel). Amasiko bied ‘n vieroktaaf-stemomvang en is dus ‘n skouspelagtige luisterervaring, wat nog verder verhoog word deur die groep se gesamentlike spitsvondigheid en hul kleurryke aanbieding.

Die Afrika Mamas bestaan uit ses enkelma’s wat hul Afrikatradisies uitleef in a-cappella-sang en -danse. Die lede: Sister Zungu, Bhe Shandu, Ntombi Lushaba, Mso Sabela en Ntombi Mtshali is almal professionele sangers; hul ervaring wissel van musiekvertonings tot agtergrondsang vir Lucky Dube en Johny Clegg. Die Afrika Mamas is onlangs vereer met die bynaam “die Vroulike Ladysmith Black Mambazo” – waarop hulle baie trots is.

Meer as tien jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, vyf CDs, twee toekennings en optredes in Finland en Portugal, maak van Cutt Glas een van Suid-Afrika se voorste kunstenaarsgroepe. Karen Meiring, Bondina Osterhoff, Jolette Odendaal, Anna Davel en Sunieda De Beer deurreis Suidelike Afrika gereeld vir nagenoeg 150 vertonings per jaar. Hulle lê omtrent 31 000 km af om so te sê 100 verskillende bestemmings te bereik. Al die lede is ook professionele kunstenaars in eie reg.

Amasiko is verlede jaar uitgenooi om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Vyfde Jaarlikse Internasionale Volkskunsfees wat in Sjina gehou is.

Groepe uit agtien verskillende lande het deelgeneem wat Rusland, die VSA, Argentinië, België, Brasilië, die Cook-eilande, Egipte, Georgië, Duitsland en Hongarye ingesluit het.

Gedurende die reis na Sjina, is die ART FRIENDSHIP GOLDEN CUP van die Vyfde Sjinese Internasionale Volkskunsfees aan AMASIKO toegeken. Dit is deur die Sjinese organisasie, Federation of Liberty and Art Circles, aan hulle oorhandig omdat hulle hul uitstekend van hul taak gekwyt het in die uitbeelding van die doel van die fees, naamlik die bou van vredesbrûe en die bevordering van kuns en vriendskap.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar