Andra

 

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Haar debuut-CD, Secrets and skeletons, is onlangs opgeneem by One Big Room Studios in Pretoria saam met Ludwig Bouwer.

Die album is reeds besig om besondere aandag te trek, wêreldwyd asook plaaslik.

Andra is ’n produk van Namibië – sy is in Windhoek gebore en het in Swakopmund grootgeword.

Sy is van kleins af in musiek gedompel en op die brose ouderdom van nege het sy, begeester deur die musiek van Bruce Springsteen, ’n tennisraket opgetel en ‘air guitar’ begin saamspeel. Kort daarna het pa Johan – behoede sy siel – sy eie kitaar vir haar gegee. Na ses jaar se klassieke opleiding het sy besluit om op haar eie styl van musiekmaak te begin fokus. Soos sy dit noem: ‘stories en klanke’.

Sy het nog altyd haar eie liedjies geskryf, maar het dit slegs drie jaar gelede voor mense begin aanbied – aanvanklik net in hul familie-restaurant The Village Café in Swakopmund.

AndraTussendeur was sy ’n kelnerin vir ekstra inkomste.

“Ek sien myself glad nie as ’n sanger nie – ek is slegs en totaal lief vir musiek, en is mal daaroor om net dit te doen,” bely sy.

’n Ongelooflike opmerking vir iemand wie se stem op eerste luisterslag al klaar vergelyk word met groot name soos Toni Childs en Alanis Morisette. Met ’n stukkie Janis Joplin en Natalie Merchant daarby ingeweef.

Secrets and skeletons bestaan uit 12 liedjies, almal geskryf en getoonset deur haarself.

Die temas is die werklikee alledaagse. Liefde, verlies, verlore drome en meer.

Die musiek is misleidend eenvoudig – en dan derhalwe geweldig treffend, met ’n kollektiewe trefkrag wat die luisteraar vir seker onkant sal betrap.

Sy is nie bang om met instrumente soos die sitar of die Indiese tabla-drom te eksperimenteer nie.

“Ek is gelukkig dat ek in ’n omgewing grootgeword het waar ek voortdurend aangemoedig is om te skep, en nie na te boots nie.’n Waarde wat my hopelik lewenslank sal bybly.”

Invloede? Wel, benewens Springsteen op daardie jong ouderdom, word sy geïnspireer deur die werklikheid, die daaglikse verloop van die lewe soos sy dit beleef.

‘Capture the moment, be aware’ – is haar uitgangspunt.

Enige ander liefdes behalwe musiek?

Koffie. En ja, sy het werklik empatie met kakkerlakke. (Die snit “Cockroach” op haar album word gesien as ’n potensiële internasionale treffer.)

“Hulle word al vir eeue so sleg behandel! Ek dink ons moet ’n kakkerlak-monument oprig …” terg sy.

Tans wil sy egter steeds net ‘hier wees. Waarneem..’

En wat van die toekoms?

Sy trek haar skouers op.

‘Hopelik dan nog meer daarvan …’

Lewer kommentaar

Leave a Reply