Begaafde jong pianis debuteer in Nederburg Konsertreeks

Die begaafde jong Suid-Afrikaanse pianis Roelof Temmingh sal op Sondag 27 Julie om 17h00 sy debuut by die Nederburg Konsertreeks maak.


Roelof is die jongste kunstenaar wat al ooit genooi is om ’n solo-uitvoering by Nederburg te gee. Die program wat hy aanbied sal vir seker alle liefhebbers van klassieke klaviermusiek tevrede stel. Die eerste helfte van die konsert sluit werke in van groot komponiste soos Bach, Mozart, Chopin en Ravel. Na die pouse kom die Russe aan die beurt, met skitterende en kragtige werke deur die befaamde meesters Moszkofski, Rachmaninof en Prokofiëf.

Op sewentienjarige ouderdom is Roelof reeds tuis op Suid-Afrikaanse konsertverhoë. As lid van ’n bekende musikale familie het hy al verskeie toekennings vir jong musici in Suid-Afrika verower. Daarby is hy ’n top-presteerder op skool. Vroeër vanjaar het hy benewens die eerste prys ook al die spesiale pryse by die hoogaangeskrewe Hennie Joubert Klavierkompetisie ontvang.

Roelof word deur sy moeder onderrig, die bekende orrelis en pianis Zorada Temmingh, en het al by onder andere Roberto Plano, Antonio Pompa-Baldi, Vadim Monastyrski en Anton Nel meesterklasse bygewoon.

Kaartjies kos R200 per persoon en sluit Nederburg-wyne asook ’n smaaklike vingerete ná die uitvoering in. Om te bespreek, bel 021 809 8412 gedurende kantoorure, of stuur ’n e-pos na concerts@distell.co.za.

Roelof Temmingh
Roelof Temmingh
Die Nederburg Konsertreeks 2014, ondersteun deur die Distell Stigting, bied ’n konsertuitvoering deur die begaafde jong pianis Roelof Temmingh aan op Sondag 27 Julie om 17h00. Adres: Die Herehuis, Nederburg-landgoed, Sonstraalweg, Dal Josaphat, Paarl.

(foto: Nic de Jager)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar