Jannie du Toit se vyf dekades met Afrikaanse musiek. Die omvattende titel waaronder Jannie sy halfeeu vier, is ook die naam van die verhoogproduksie wat hoogtepunte uit sy loopbaan as liedjiemaker en opnamekunstenaar saamvat. Die program word aangebied saam met sy gereelde ensemble van Susan Mouton (tjello) en Chanie Jonker (klavier en akkordeon) en die program bestaan uitsluitlik uit Afrikaanse liedjies wat Jannie êrens oor die afgelope vyf dekades opgeneem het: liedjies van Jannie en sy vriende.

Jannie gee die gehoor ’n blik op die bestemmings waarheen sy musiekreis hom oor die afgelope halfeeu geneem het: van ’n dameskoshuis-sêrrie onder ons eie sterre tot by die Noorderligte oor Saskatoon, van die Pierneefteater in Pretoria tot ’n kitaarfees op die walle van die Volga. Die fisiese, maar ook die simboliese bestemmings is dikwels vergestalt in sy eie liriek, maar hy beSTEM in hierdie produksie ook die mymeringe van ander liedjieskrywers oor hulle hartsplekke en drome – soos wat hy dekades lank reeds doen. Met sy briljante begeleidende ensemble van Susan en Chanie  saam met sy kitaar, sorg Jannie danksy rype ervaring, besondere vokale vermoëns en ’n repertorium met baie wye verskeidenheid, vir ’n produksie waarin die emosies gedurig wipplank ry en artistieke integriteit die botoon voer.

beSTEMmings – Jannie du Toit

Lewer kommentaar

Leave a Reply