Bid

deur Amelia Mulder

As jy ‘n gereelde MK89-kyker is moes jy al Radio Suid-Afrika se ontnugterende video, Bid, te siene gekry het. Die video oorweldig jou met ware beeldmateriaal van mense in oorloggeteisterde gebiede en is beslis nie vir die wankelmoedige nie. Bid is dan ook die naam van hulle nuwe album, wat onlangs vrygestel is.

Radio Suid-Afrika is die breinkind van Niel van Deventer en Leon van der Westhuizen, twee skoolvriende wat hul jeugtydse droom om saam musiek te maak uiteindelik verwesenlik het nadat elkeen eers sy eie paadjie geloop het. Niel is oorsee en het ook vir ‘n band genaamd Doolhof in Pretoria gespeel en Leon het kitaar en baskitaar gespeel vir o.a. Small Town Fashion Gurus, Jo Martin en Luna. Vir die album het hulle vir Tim Rankin (van Bed on Bricks) op dromme, Marie-Louise Pretorius (van Klopjag) op tjello, die sangeres Luna en die digter Kabous Verwoed nader gehark.

Anders as byvoorbeeld die ontslape rocker, Kurt Cobain, wat nooit gemaklik was in die rol van spreekbuis vir ‘n generasie nie, sien Radio Suid-Afrika hulself as sosiale kommentators wat “‘n stem [wil wees] wat spreek vir almal wat gatvol is, almal wat al moes gebuk gaan onder misdaad, alle slagoffers van rassisme, almal wat bang is om saans te gaan slaap omdat hulle nie weet of hulle môre wakker gaan word nie en almal wat meer uit musiek wil kry as spookasem …,” volgens hulle webwerf.

Bid is dan ook lirieke-gedrewe musiek wat besin oor temas soos ontvlugting, verlore liefde, die doel van die lewe en marginalisering. Alkohol as middel tot ontsnapping vorm ‘n leitmotief wat weerklink in die snitte “As”, “Bid”, “Judy”, “Stacey” en “Bier in die Hel”. Verwysings na oorlog, geweld en wapens is ook redelik deurlopend in Van Deventer se lirieke. Die titelsnit, “Bid” en die peinsende “Minder is Meer” staan uit as liedere wat tot die siel spreek.

Die album is egter nie ‘n neerdrukkende weeklag nie en lewer ligpuntjies soos die reggae-rige “Stacey” wat sterk herinner aan Koos Kombuis en selfs intertekstueel verwys na ‘n verlangde “huisie by die see”. Van der Westhuizen se “Alone”, soos vertolk deur Luna is engelagtig mooi en die kombinasie van stem en kitaar het die tipe intensiteit van P.J. Harvey of Portishead. Die album word treffend op ‘n positiewe noot afgesluit met die lied “Hoop”, met lirieke deur Kabous Verwoed en vernuftige kitaarwerk deur Van der Westhuizen.

Alhoewel onafhanklik uitgegee, is Bid kundig aanmekaar getimmer, met goeie vervaardiging en vermenging en keurige omslagontwerp deur curb. Die slordige taal- en spelfoute in die omslag doen egter afbreuk aan die produk. Bid is bedoel vir diegene wat belangstel in stof tot nadenke gepaardgaande met goeie musikale vakmanskap. Die album kan direk van Radio Suid-Afrika bestel word. Skakel 072 4470823.

Lewer kommentaar

Leave a Reply