Bottomless Coffee Band maak al vir die afgelope paar jaar voortdurend golwe in die Suid-Afrikaanse Musiekbedryf. Aanhangers sal verheug wees oor die nuus dat hul tweede vollengte album Anthelia in Februarie 2018 uitgereik is. Die album bestaan uit 11 nuwe liedjies: nege in Engels en twee in Afrikaans. Lourens en Esté Rabé van BCB sê dat die doel was om ‘n diverse album te maak, terwyl die essensie en integriteit van hulle musiek steeds alles saambind.

Anthelia is ‘n kombinasie van folk-pop, rock en ook ballades met ‘n klassieke gevoel. Hierdie album sal jou laat dans, glimlag, huil en sing, alles in die liedreis-baadjie van een paartjie se ervaring van die lewe.

BCB het tot op hede `n gemiddeld van 150 vertonings per jaar uitgevoer en het ook al in verskeie lande buite SA opgetree, insluitende Namibië, België, Nederland, Engeland en Skotland. Die feit dat Lourens en Esté tot om en bei 12 instrumente tussen die twee van hulle speel tydens hulle vertonings, maak dat dit `n baie unieke ervaring is om hulle optredes by te woon.

Lourens sê dat sy instrumente vir hom absoluut noodsaaklik is vir sy kreatiewe uitdrukking. “Ek was 8 jaar oud toe ek ‘n man sien dromme speel in ‘n fliek. Vir die volgende twee jaar was dit vir my `n obsessie om met dromritmes te eksperimenteer. Ek het my ouers mal gemaak en gedurig trom-stelle gebou uit my ma se kombuisware. Uiteindelik my ouers ingegee en vir my `n tromstel vir my tiende verjaardag gekoop. Ek onthou hierdie dag steeds as my gelukkigste kindertyd-herinnering. Ek het op hoërskool die akoestiese kitaar begin speel en ontdek dat ek ook daarvan hou om te sing.

Vandat ek die eerste keer `n kitaar opgetel het, is ek en hierdié instrument onafskeidbaar – ek neem dit oral met my saam. Ek het dit self vir ons wittebrood ingepak. Ek en my vriende het ook baie bymekaar gekom om te “jam” en ons het beurte gemaak om verskillende instrumente te speel. Dit is dan waar ek geleer het om die baskitaar te speel. En nie lank daarna nie, ook die klavier. Ek is mal oor `n klavier. Dit is vir my die mooiste ding.

Ek het myself leer speel. Ek het nog nooit in my lewe `n musiek-les gehad nie. Die proses om elke keer `n nuwe instrument te leer ken, is vir my altyd besonders. `n Mens moet as`t ware `n musikale dialoog voer om die instrument te leer ken en te vertrou. Dit vat tyd en fyn inspanning, maar dit is die moeite werk. As dit eers begin vloei, maak dit my baie gelukkig.

In 2015 het ons `n Farmer Footdrum Kit uit Amerika gekry. Sover ek weet was ons die eerste SA groep wat so `n stel besit. Dit het sewe pedale, waarmee ek dan al die tromritmes met my voete kan speel. Dit beteken dat ek dan terselfdetyd my kitaar kan speel. Ek speel hiermee saam ook nou en dan `n bekfluitjie, so en voel omtrent amper soos `n hele band.”

Esté het ook al van `n baie jong ouderdom geweet dat sy gebore is om musiek te maak. “Ek het in `n baie musikale huis grootgeword. My pa en susters het gereeld musiek gemaak. Ek was `n laatlammetjie en het toe ek klein was, myself op die klavierstoel getrek en sommer so deur net te luister leer klavier speel. Ek het sommer kort daarna saamgespeel as my familie begin musiek maak; niks het my meer vreugde gebring nie. Ek het ook daarvan gehou om te sing.

Ek het reeds op hoërskool my eie liedjies begin skryf en speel. Ek het ook in hierdie tyd leer kitaar speel en het ook belanggestel in drama en sang. Dit was wel eers op universiteit wat ek geleer het om meer instrumente te speel. Ek het klassieke sang-opleiding by die Konservatorium van die Stellenbosch se Universiteit ontvang en het ook hier leer klarinet speel. Ek het ook die trekklavier nader getrek en dit taamlik maklik baasgeraak. Tans speel ek tydens ons vertonings die volgende: ukule-le, elektriese baskitaar, UBass, trekklavier, glöckenspieël, voet-perkussie en klavier. Ek en Lourens sing ook beide. I vind lirieke, sang en melodie die mees inspirerende dele van `n lied en die skryf daarvan, maar ek waardeer en geniet ook die toevoeging en klanke van die verskillende instrumen-te. Al is ons net twee op die verhoog, is dit lekker om `n volle “band” klank te kan aanbied.

Die naam, “Anthelia”, is geïnspireer deur die titelsnit wat die essensie van die album vasvang. Dit beteken: “Die vermoë om engele te sien”. Die duo verwerk dit in hul eie interpretasie: “Die vermoë om skoonheid in alles en almal rondom ons te sien.”

Anthelia is beskikbaar op iTunes en in Musica winkels.

bottomless coffee band
Lourens en Esté Rabé speel ongeveer 12 instrumente tussen die twee van hulle tydens hul optredes.
Foto: Nelis Engelbrecht.

Toerdatums:

KKNK, OUDTSHOORN 1 April / Castle Lager verhoog / 15h30 2 April / Castle Lager verhoog/ 12h30
GEORGE
Vrydag 13 April.
George Arts Theatre

PRETORIA – Anthelia ALBUM LAUNCH
Donderdag 19 April.
Atterbury Teater.

BLOEMFONTEIN
Vrydag 20 April.
Innie Skuur

BETHLEHEM
Saterdag 21 April.
Atmosvuur

ERMELO
Sondag 22 April.
BUTR Deli

POTCHEFSTROOM
Woensdag 25 April.
TORO

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar