Cake

Lize Beekman is ‘n liedjieskrywer/sanger wie se liedjies reeds deur verskeie kunstenaars opgeneem is. Sy skryf al liedjies van kleintyd af. Om die waarheid te sê, die eerste Lize Beekman-nommer wat professioneel opgeneem is, het sy geskryf toe sy maar 12 jaar oud was.

Die liedjie was “Like an Eagle” en is deur Clive Bruce opgeneem. Daarna het mense soos Amanda Strydom, Karin Hougaard, Elzabé Zietsman, André Schwartz en vele meer van Lize se komposisies gesing. Lize het intussen egter grootgeword, haar diploma in Ligte Musiek by die Pretoria Technikon voltooi en skryf nou nie meer net vir ander kunstenaars nie, maar sing ook self haar eie materiaal.

Haar eerste cd Eyes of a Child is in 1997 vrygestel en Lize het hiermee ‘n nominasie vir die FNB Sama-toekennings in die kategorie Beste Volwasse Kontemporêre Album – Engels gekry. Sy het met haar debuutalbum op die brose ouderdom van 22 selfs as finalis deurgedring.

Ten spyte van die aandrang van haar bewonderaars het Lize besluit om te wag voor sy haar tweede CD die lig laat sien. Intussen was sy musiekregisseur vir Amanda Strydom en Elzabé Zietsman en het sy steeds liedjies geskryf vir ander kunstenaars.

Maar vroeër die jaar het Cake die lig gesien en resensente sê die drie jaar se wag was ‘n wyse besluit. Lize het meer lewenservaring en dis duidelik as mens na die titelsnit Cake luister. Dis ‘n heerlike, ligte, tong-in-die-kies liedjie wat mens met ‘n glimlag op jou gesig en ‘n lekker gevoel in jou hart los. Mense wat die CD ken sê dis, om die waarheid te sê, wat die hele CD aan jou doen.

Al die werk op Cake is Lize se eie lirieke en musiek, behalwe “Rooiborsduif” wat Lize se toonsetting is van Breyten Breytenbach se gedig uit die bundel Lotus. Die CD het, nes haar eerste, Afrikaanse en Engelse liedjies op. Maar haar platemaatskappy JNS Musiek sê as mens luister na “Iemand het gesê” en “Something to say” besef mens hoekom sy in albei tale skryf – want sy kan!

Cake bevat ook die Afrikaanse televisiereeks Soutmansland se temalied en die wye verskeidenheid op die CD sal ‘n groot spektrum bewonderaars bevredig.

Lewer kommentaar

Leave a Reply