Metamorph

Noudat Karin Hougaard weer op verkeie plekke in die land optree, kan mens gerus kyk na haar spog-album Metamorph wat ‘n rukkie gelede verskyn het. Tydens verlede jaar se Aardklop Kunstefees is die Metamorph-produksie met goeie rede bekroon met die Beeld/Aartvarkprys vir Innoverende Werk. Dié produksie gaan hand aan hand met die album Metamorph wat gedien het as die klankbaan daarvoor. Die toekenning is gemaak op grond van Karin se nuwe benadering tot die kabaret-genre, maar ook die innoverende manier waarop die musiek van Brel en Piaf gemetamorfeer is.

Die musiekverwerkings vir die album is gedoen deur die briljante Didi Kriel en wissel van sagte ballades soos “Padam, padam”, tot die verrassende rockverwerking van “No, je ne regrette rien”. Karin se musiekverspreider JNS Musiek sê die luisteraar word gedwing om met nuwe ore te luister na die welbekende musiek en as gevolg van die vars interpretasies word die kern van die musiek van meet af ontgin.

Karin se vertolkings is dinamies en haar stemtegniek verken alle teenpole wat ‘n vokale kragtoer tot gevolg het wat haar weer eens as een van Suid-Afrika se top-stemme bewys.

Omdat vertalings uit een taal na ‘n ander met goeie oordeel gedoen moet word om nie die karakter van die oorspronklike liriek te skaad nie, is met toestemming van die Fondation Internationale Jacques Brel slegs twee Brel-vertalings deur Karin self gedoen: “Liefde vir later” en “Vriend sien huil”. Die bekende Afrikaanse skrywer Marita van der Vyver was verantwoordelik vir die vertaling uit Frans van die Piaf-treffer “Padam, padam”. Die res van die musiek is met die oorspronklike liriek of bestaande, erkende vertalings opgeneem.

Metamorph spreek van innovering en moed, laasgenoemde omdat dit moed verg om ikone aan te durf en ‘n nuwe stempel daarop te plaas, en innoverend omdat die projek daarin slaag om iets wat reeds bestaan so te vervorm dat dit opnuut herleef. Maar dis nie net Brel en Piaf se musiek wat ‘n gedaanteverwisseling ondergaan nie. Karin Hougaard self het die afgelope 19 jaar stilweg verander van ‘n jong kinderster tot ‘n kreatiewe, toonaangewende Suid-Afrikaanse kunstenaar en uitvoerproduk.

Lewer kommentaar

Leave a Reply