“Mense kan gereed maak vir ’n wonderlike ervaring. Die musiek is beeldskoon, eerlik en onpretensieus en is ’n getuigskrif van ons Suid-Afrikaanse musikale landskap en kultuurskat.” Só gesels Frazer Barry oor Die liedjiemakers wat Woensdagaand 3 November om 20:00 by die kykNET Atlantic Studios in Kaapstad aangebied word. Die liedjiemakers is op die program van die Suidoosterfees se gewilde inryteater wat van 2 tot 8 November plaasvind.

Frazer Barry was vanjaar weer betrokke as mentor van die nuweling-liriekskrywers by die fees en die Jakes Gerwel Stigting se mentorskapprojek vir liefdjieskrywers. Die liedjiemakers is die uitvloeisel van maande se harde werk en spog met gewilde sangers wat saam met die nuwelinge optree. Bekendes soos Loukmaan Adams en Eden Classens is saam met Frazer op die verhoog, en die Suidooster-ster, Natasha van der Merwe, bekend vir haar rol as Suzie Naudé in die sepie, maak ’n spesiale gasverskyning.

Ander sangers wat inryteatergangers gaan vermaak, nuwelinge ingesluit, is Jerome Rex, Jodi Jantjies, Breyten Treurnicht, Brumelda Bell, Nicol Klopper, Gabriel Plaatjies en Naaim Briesies. Begeleiding word verskaf deur die room van Suid-Afrika se musikante: Ramon Alexander en die Tribal Echo-lede Earl Witbooi, Deniel Barry en Llewellyn Adonis.

Die liriekskryfprojek is in 2019 vir die eerste keer aangebied as deel van die Suidoosterfees se Talentsoektog-inisiatief. Gary van Loggerenberg van Sanlam, wat die projek jare lank reeds ondersteun, sê: “By Sanlam weet ons hoe noodsaaklik ’n ryk en florerende kultuurbedryf vir ons gemeenskap is. Kuns, musiek, teater en literatuur bring mense nader aan mekaar. Dit laat hulle toe om voorspoed te kweek en met selfvertroue te leef. Dit is een van ’n verskeidenheid projekte wat ons ondersteun en waarvan die doel is om die kultuur van alle Suid-Afrikaners te omarm en te bevorder.” Kaartjies vir dié spesiale inryteater-vertoning kos R250 per motor en kan by Computicket bespreek word. Besoek gerus die Suidoosterfees se Facebookblad vir meer inligting en lekker video’s. Benewens Sanlam en die Jakes Gerwel Stigting word die projek ook deur Stad Kaapstad; die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; kykNET; NATi; Kia; ACT en BASA moontlik gemaak.

Jodi Jantjies
Jodi Jantjies is een van die sterre wat in Die liedjiemakers by die Suidoosterfees se inryteater optree.

Lewer kommentaar

Leave a Reply