Karen Zoid en Brainwave Productions het die afgelope naweek hul derde SAFTA (South African Film & Television Award) ingepalm vir die immergewilde kykNET geselsprogram Republiek van Zoid Afrika.
Karen Zoid sê dat dit `n groot voorreg is om deur NFVF (National Film & Video Foundation) raakgesien te word: “Dit is verskriklik lonend as jou ‘fans’ jou werk geniet- en dan dubbel so lekker as `n mens erkenning vanaf kundiges in die industrie ontvang. Dit voel ongelooflik om iets tot die film en televisie industrie in ons land te kan bydra wat die publiek, asook `n paneel van ervare mense in die bedryf, geniet en waardeer.”
Carien Loubser, vervaardiger en regisseur van RZA voeg by: “Dit vat bloedsweet, harde werk en toewyding agter die skerms om ‘n góeie televisie reeks op die lug te sit. Daar is baie mense wat ure, dae, weke en maande toewy om ‘n mooi program te maak. Dis ‘great’ as ‘n reeks op ‘n nasionale vlak vereer word.”
Die vyfde RZA reeks sal vanaf 10 Mei op Donderdae om 20:30 op kykNET uitgesaai word. Gaste sluit onder andere Johnny Clegg, Jo Black, Refentse, Ross Learmouth van Prime Circle, Die Heuwels Fantasties, Patricia Lewis, Yvonne Chaka Chaka en Valiant Swart in.
Zoid sê dat die nuwe reeks se musiek-uitvoerings baie besonders is. “Ek en die musiek-vervaardiger van die RZA album, Theo Crous, is oortuig daarvan dat hierdie album, die beste nog is.” Die album vir die 5de RZA reeks sal in Julie vanjaar uitgereik word en bevat al die liedjies wat in die reeks opgevoer is. Zoid en haar gaste het al meer as 32 keer die no 1 posisie op iTunes se SA trefferlys gehaal.
Daar word ook `tans aan `n spesiale Republiek van Zoid Afrika Konsert beplan wat op Vrydag 15 Junie by Sun Arena by Menlyn Maine aangebied word. Verskeie RZA gaste oor die jare sal op die verhoog te sien wees. Van die kunstenaars sluit in Kahn Morbee (Parlotones), Francois van Coke, Jo Black, Zolani Mahola (Freshlyground), Vusi Mahlasela, ens. Kaartjie verkope open middel April. Meer inligting word binnekort op Karen Zoid se sosiale media platforms bekend gemaak.
Zoid en haar band bied ook twee groot vertonings in Junie eksklusief in Gauteng en Kaapstad aan. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.
1 Junie: Teatro, Monte Casino.
20 Junie: Artscape Operahuis.