Die veelsydige en talentvolle Almero het pas ‘n Ghoema-nominasie in die kategorie Beste Alternatiewe Album ontvang en stel ook nou sy derde enkelsnit, getiteld, “Donnerse Lag”, bekend.

Almero vertel dat “Donnerse Lag” die laaste snit is wat hulle opgeneem en gefinaliseer het vir sy album. Hy en sy broer, Nico, het lank gewerk aan die lied en toe vir Ruan Graaff nader getrek om ook te help om die lied te vervaardig. Hy het aanvanklik net die kitare opgeneem vir die snit, maar het later ook met die vervaardiging gehelp. “Die proses was vir my baie anders as die ander snitte op die album. Ons het grootendeels eers die musiek afgehandel en toe het ek gewerk aan die melodieë en lirieke”, sê Almero.

“Die lied handel oor die afgelope drie jaar in my en my broer se lewe, waar ons finansieël sukkel om ons voete te vind in die kunste-wêreld waarvan ons deel wil wees. Die liedjie is dalk effens belaai met woede, maar meestal frustrasie oor die feit dat ‘n mens soms voel of niks uitwerk nie. Ek het lank gewonder of God nie al moeg geluister is na my gekerm oor die swaar tye in my lewe nie. En as dit so swaar gaan, dan is daar niks wat ‘n mens so jaloers maak soos iemand wat heeldag glimlag nie”, sê Almero. “Die lied bestaan dus uit oomblikke van “cries for help” en dan die bewuswording van die gepaardgaande gevoel van selfsug.”

Die musiekvervaardiging is uiteindelik behartig deur Almero, Nico Welgemoed en Ruan Graaff. Peach van Pletzen het die opnames gedoen en ook meester en klank vermenging behartig. Dit was ‘n lekker en gemaklike proses, maar nie sonder uitdagings nie.

“Die sang was van die moeilikste dele op die album om te sing, maar Peach van Pletzen het my gemaklik gemaak om sonder skaamte te skree in die mikrofoon in. Dit is ook spesiaal omdat my broer help skryf het aan die melodieë en lirieke, meer as gewoonlik,” voeg Almero by.

Die musiekvideo vir hierdie liedjie is ook vandag bekendgestel. Die video is geskiet tussen Parys en Potchefstroom asook in Potch self. Almero se broer, Nico Welgemoed, het die video se verfilming en vervaardiging behartig.

“My broer is ‘n videografiese genie!” vertel Almero

https://www.youtube.com/watch?v=x079kJT3K0Y

Buiten vir Almero se Ghoema-nominasie in die Beste Alternatiewe Album kategorie kan die publiek ook vir hom stem as hulle gunsteling manlike kunstenaar deur PM2 te sms na 39952. Jy kan stem soveel keer as wat jy wil. Koste is R2 per sms. Stemme het op 28 Februarie 2019 ge-open en sluit op 28 Maart 2019 om 24h00. Bepalings en voorwaardes held.

Die 2019 kykNET Ghoema-toekennings is een van die musiekbedryf se grootste glansgeleenthede en vind vanjaar op 17 April 2019 plaas by die betowerende Sun Arena by Time Square Casino in Pretoria. Kaartjies is beskikbaar op Computicket.

“Donnerse Lag” verskyn ook op Almero se album, Maandag en is beskikbaar op alle digitale platforms.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar