Drie top kore op een verhoog by Oude Libertas

Die prentjiemooi Oude Libertas Amfiteater in Stellenbosch sal op Saterdag 30 November weerklink met die klanke van drie top Suid-Afrikaanse kore. Die Kaapstadse Jeugkoor, Joyful Harmonies van Gugulethu en die Kaapse Solistekoor sal die bekoorlike verhoog deel in ‘n uitvoering getiteld 3 Times Choir Power – ’n trotse viering van ons land se ryk en uitstaande koortradisies.


Met die kaleidoskoop van musikale style wat die kore gaan aaanbied kan die gehoor uitsien na ‘n buitengewone musikale reis – van heilige 15de eeuse kerkmusiekklanke tot die oorrompelende energie van township lewe in Kaapstad.

Joyful Harmonies bring hulde aan werke van Suid-Afrikaanse komponiste, grotendeels uitgevoer in Zulu en Xhosa, maar ook met ‘n sprankelende weergawe van “Kinders moenie in die water mors nie”. Die Kaapstadse Jeugkoor gaan die gehoor op reis neem met werke gesing in Engels, Frans, Chinees en Afrikaans, insluitend ‘n besoek aan die betowerende klankwêreld van vokalisering en botoonsang.

Die musikaal hoogs indrukwekkende komposisies van die Noorweegse komponis Knut Nystedt kom aan die beurt tydens die optrede van die Kaapse Solistekoor. Met sy werke, gekomponeer in die styl van Gregoriaanse gesange asook die meesterlike Renaissance komponis, Palestrina, word Nystedt wyd erken as die vader van kontemporêre koormusiek.

Om die aand van uitmuntende koorsang onder die stêrre af te sluit sal die kore saamspan in ‘n inspirerende afsluiting, waarmee hulde gebring sal word aan Suid-Afrika se opwindende koorsangerfenis.

3 Times Choir Power word aangebied by die Oude Libertas Amfiteater in Stellenbosch op Saterdag 30 Novermber om 20h15. Kaartjies teen R130 en R150 is nou beskikbaar by Computicket of telefonies by 021 809 7473 / 7380 gedurende kantoorure.

Kaapstadse Jeugkoor
Kaapstadse Jeugkoor

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar