Die veelsydige sangeres en storieverteller, Yolandie neem luisteraars én lesers op ’n intieme pad met die vrystelling van haar nuwe “remix” Morné se Lied en die gepaardgaande boek, Die wonderwerk van “Morné se Lied”.

Wat as ’n speelse, musikale oomblik begin het, het uiteindelik ’n pad van insig, verwerking en hoop geword. Die lied en boek vorm saam ’n kreatiewe eenheid: die een sing, die ander vertel.

Die nuwe weergawe van Morné se Lied is lig, vars en vol gevoel, ’n weergawe wat die luisteraar nooi om eenvoudig saam te sing, saam te dans, saam te voel, en dalk iets in hul eie lewe raak te hoor. Die verwerking is hanteer deur André Hartman en die lied is geskryf deur Sandra Esterhuizen Nest. Dit bring ’n nuwe lewenslus aan ’n melodie wat reeds baie harte geraak het.

“Ek wou nie die lied swaar of dramaties maak nie. Hierdie “remix” is ’n viering, van hoe musiek ons laat voel, laat onthou en laat beweeg,” sê Yolandie.

Saam met die lied stel Yolandie ook haar boek bekend: Die wonderwerk van “Morné se Lied”, ‘’n eerlike en inspirerende besinning oor hoe een lied ’n hele mens kan oopmaak. Dit is ’n storie van geloof, sinsoeking, lig en liefde, met musiek as metgesel en gids.

“Ek het nooit verwag dat ‘n lied soveel in my sou oopmaak nie. Hierdie boek is nie ’n drama of ’n onthulling nie, dis ’n verwerking, ’n wonderwerk en ook ’n bietjie genesing.”

Die boek is deurspek met geloofselemente, ware belewenisse, en die emosionele agtergrond van die lied se ontstaan. Dit is ook ’n kreatiewe getuienis van hoe God deur kuns werk, dikwels sonder dat ons dit dadelik besef.

Die lied en boek se vrystelling is die begin van ’n opwindende en diep persoonlike nuwe fase vir Yolandie.

Yolandie Morne se lied 2025
Yolandie – Morne se lied

Lewer kommentaar

Leave a Reply