Dani Villé is ‘n veelsydige musikant van Kaapstad, waar sy as ‘n voltydse sangeres en liedjieskrywer floreer. Van jongs af is sy lief vir reis en in 2023 was sy vir drie maande in Berlyn, Duitsland om haar musiek met gehore daar te deel. Dit was vir haar `n besonderse betekenisvolle ervaring, soveel so, dat sy huis toe gekom het met `n rits nuwe liedjies.
Die eerste van hierdie liedjies getiteld “Jy’s Okay” is onlangs uitgereik. Dani vertel: “Ek het ongelooflike nuwe musiek- ervaringe in Berlyn beleef en baie mense ontmoet in die internasionale musiekindustrie. Ek het my mense net vreeslik baie gemis. My kêrel het my gemotiveer om deur te druk. “Jy’s Okay” is ‘n liefdesliedjie wat in hierdie tyd, weg van die huis af, geïnspireer was deur hom.”
Dani beskryf die opneem van “Jy’s Okay as” ‘n absolute fees! Sy sê: “Ek het die liedjie by Olly van Schalkwyk van Ollyvans Studios opgeneem. Ons het rondgespeel met akoestiese-pop elemente, met genoeg ritme, maar so ook dat die oorspronklike emosies wat ek ervaar het, gevoel kan word.”
Dani se tweede Afrikaanse enkelsnit van die jaar, “Ek verkies musiek”, is ‘n lekker rock liedjie wat Dani vreeslik geniet het om te skryf. Dit is geïnspireer deur mense na aan Dani, wat ten spyte van die feit dat hulle soveel keer al die verkeerde liefdes in hul lewe gehad het, sterker anderkant uitkom. Die liedjie gaan daaroor dat Dani enige tyd eerder die geluk van musiek bo `n gebreekte hart verkies. Die liedjie is opgeneem deur Frank Freeman en versorg deur Dolf Willemse in Kaapstad. Dani wou hê dat dit ‘n sterk rock -lied moes wees, met baie elektriese kitaar om daardie gevoel van ‘wraak’ en ook selfvertroue te toon. Dit is presies wat hulle reggekry het. Dani sê dat dit vir haar `n opwindende tyd is. “Dit is `n wonderlike gevoel as mens self van jou eie liedjies hou. Ek is lief vir my musiek en sien baie uit daarna om dit met die wêreld te deel.”

