Die Kaapse sangeres Dani Villé het in 2025 diep spore in die Afrikaanse musieklandskap getrap met nuwe treffer- liedjies soos “Jy’s Okay”, “Ek Verkies Musiek”, en “Insane.” Sy maak ook vanjaar haar debuut as aktrise in die fliek Mêdum die Movie wat landwyd in teaters in Junie uitgereik word.
Dani se nuutste enkelsnit “Selfbewus” wys weereens haar gemak met lekker rock klanke. Sy straal met selfversekerde lewenslus in die musiekvideo vir die liedjie. Dani sê: “Ek werk al vir jare lank hard aan my musiek. Uiteindelik begin ek voel dat dinge op ‘n baie positiewe manier vorentoe beweeg. Ek voel opgewonde!” Selfbewus” is vir Dani ‘n persoonlike lied. Sy het dit geskryf nadat ‘n vriendskap met ‘n baie goeie vriendin ten gronde geloop het. Dani vertel: “Ons het net heeltemal uitmekaar gedryf. Sy het my basies heeltemal begin ignoreer en dit het my laat sleg voel omdat ek vir haar omgegee het as ‘n vriendin. Haar motiewe het nie vir my eerbaar voorgekom nie. Sy was baie daarop gefokus om met bekende en suksesvolle mense vriende te wees, en was daarom net heeltemal te aangeplak en selfbewus.”
Luisteraars sal op hul eie manier aanklank vind by “Selfbewus.” Of hul self deur ‘n romantiese ‘breakup’ gegaan het, of dieselfde situasie met ‘n voormalige vriend of vriendin ervaar het. Almal was al seergemaak deur selfbewuste mense daarbuite. Dani hoop hierdie liedjie inspireer ander wat ook dalk nog steeds in dieselfde situasie vasgevang is.
Die musiekvideo vir “Selfbewus” is verfilm deur Julius Bekker van Refined Photography. Dani vertel: “Hierdie is die lekkerste musiekvideo wat ek al ooit gemaak het. Ek kan nie wag om almal se reaksie daarop te sien nie. Ons het by verskillende landskappe en plekke in die Paarl geskiet. Ek is mal daaroor om met kleur en baie beweging in ‘n video te speel. My gunsteling deel van die video (behalwe die liedjie), is definitief die twee elektriese kitare wat ek gebruik het! Ek dink hulle gaan dalk meer aandag kry as die video self wanneer mense dit sien.”

