EET KREEF! deur Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band word vereer in hierdie herinterpretasie van die satiriese musikale meesterstuk wat 30 jaar gelede die land omtrent aan die gons gehad het. EET KREEF! was in 1989 `n groot sukses, ten spyte daarvan dat die liedjies vir radio verban was deur die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie.
Laudo Liebenberg (aKING) span saam met van die hotste rockers in die bedryf vandag om weer agter die stuur van hierdie Alternatief-Afrikaanse osssewa in te skuif. Die groeplede wat saam met Liebenberg optree is Frank Freeman – kitaar & sang, Sheldon Yoko – dromme, Schalk van der Merwe – baskitaar en Mikhaela Kruger – klawerbord.
Frank Freeman sê dat hulle opgewonde is om weer op die verhoog te wees met dié gesogte produksie: “Ons het vir ‘n oomblik gedink die vol band weergawe van hierdie produksie is vir eers verby, maar weens ‘n aanhoudende aanvraag vanaf mense uit die Kaap en Gauteng moes ons eenvoudig terug kom met nog. Met musiek wat ontstaan het in ‘n onstuimige tyd bring ons dit terug in ‘n nuwe onstuimige tyd. Dit voel reg en ons kan nie meer opgewonde wees om weer hierdie musiek te speel in ons voltallige vorm nie.”
Daar is drie vertonings: Een by Daisy Jones Bar in Stellenbosch en twee by Atterbury Teater in Pretoria. Freeman sê: “Van die begin af wou ons hierdie produksie op vat na die Atterbury Teater in Pretoria en ons is ongelooflik bly om dit uiteindelik te kan doen. Om dit so bietjie meer spesiaal te maak doen ons dit op die vooraand van wat Kerkorrel se 62ste verjaardag sou gewees het. Ons het gedink dis baie gepas en spesiaal. Dis hoe ons dit beplan het in 2020.”
19 Maart 2022 by die Daisy Jones Bar, Stellenbosch 21h00.
26 Maart by Atterbury Teater, Pretoria: 2 vertonings 15h00 en 19h00.
Freeman herinner hoe die idee van die moderne opname van die album ontstaan het: “Ek het in 2018 weer Johannes Kerkorrel se musiek herontdek en het gedink oor hoe relevant dit nou nog klink. Hy vertel: “Ek wou die geskiedenis van alternatiewe Afrikaanse musiek en kultuur in ‘n nuwe produksie sit en in ‘n manier die verlede en die hede bymekaar bring. Hoe meer shows ons gedoen het, het ek gesien hoe emosioneel mense geheg is aan die musiek. Dit het my laat besef ons is besig met iets meer as net ons herinterpretasie van die musiek. Ons is besig om ‘n boodskap van 30 jaar terug weer af te lewer in ‘n ander tyd en ‘n ander konteks, maar dis nog net so relevant soos dit destyds was.”
Moet nie hierdie ongelooflike musiek-ervaring misloop nie!
Kaartjies Stellenbosch: https://www.quicket.co.za/events/166906-eet-kreef/#/
Kaartjies Pretoria: EET KREEF! Herleef live by Atterbury Teater – Main Event Page | Seatme