Emile Minnie se eenmansvertoning, met splinternuwe musiek in beide Afrikaans en Engels, is vanjaar op Oudshoorn beskryf as: “… skitterend, met treffende lirieke wat aan poësie grens en sterk wysies, afgewissel met ‘n tong-in-die-kies, skerpsinnige teks.”
Sy liedjies handel omtrent ervaringe in die hedendaagse bestaan: die vreugde, hartseer, skoonheid en humor rondom ons. Hy begelei homself op die klavier, en sy begeleiding verleen aan sy vertoning diepte en intimiteit.
Minnie, lid van die duo Vlam, het in 2002 die wêreld aan die brand gehad met hulle produksie Vonk Voort!. Die produksie het in 2002 tydens die Klenkaroo Kunstefees in Oudtshoorn die Kanna gewen vir Beste Bydrae tot Kabaret en musiekteater.
Vlam se CD Bevonk! is benoem vir twee Geraas-toekennings (Beste Nuweling en Beste Duo) en is beskryf as een van die hoogtepunte in Afrikaanse musiek.
Minnie het opgetree by die eindfunksie van die 2003 KKNK en is gekeur vir die Kalfiefees in Onrus en die Volksblad Kunstefees in Bloemfontein later vanjaar.
