Die goue medaljewenner van die 2019 Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK), Jordan Brooks, 16, is op Sondag 24 November 2019 om 15:30 vir ‘n uitvoering by die Hermanus Burgersentrum as gas van Overstrand Arts Kunste (OAK).

Die talentvolle violis en die konsertmeester van die Kaapstad Filharmoniese Jeugorkes (KFJO) het die gesogte NJMK-kroon op 12 Oktober ingepalm na ‘n uitmergelende week-lange kompetisie oor vier rondes. Vanjaar is net 17 jeugmusici vir die gesaghebbende kompetisie gekeur.

Hy sal werke van bekende komponiste speel, insluitende die Sonata vir Soloviool deur die Suid-Afrikaanse komponis Peter Klatzow. Die bekwame pianis, Tertia Visser-Downie begelei hom. Die ander ses komponiste sluit ondermeer Ludwig van Beethoven, Francesco Maria Veracini en Maurice Ravel – sy gunsteling komponis – in.

Buiten die R30 000-eerste prys en die goue medalje, het Jordan ook R5 000 in die stryk-kategorie gewen, plus die R4 000–prys vir die beste uitvoering van ‘n concerto in die finale ronde en R2 500 vir die beste uitvoering van ‘n Suid-Afrikaanse werk in enige ronde van die nasionale kompetisie.

Die OAK, ‘n gemeenskapsgedrewe inisiatief, vier vanjaar ‘n dekade waarin dit plaaslike en internasionale musici na Hermanus bring. Brooks se uitnodiging is deel van sy NJMK prys. Die inisiatief borg ook die kompetisie se tweede prys van R12 500.

“Ek skryf my laaste eksamen vir die skooljaar op 19 November en is opgewonde oor die Hermanus-konsert. Ja, daar is so bietjie positiewe vlinders in my maag,” erken hy. “Maar die Hermanus-gehoor kan ‘n uitvoering deur twee musici wat saam wonderlike musiek speel, verwag.”

Hy is ‘n boorling van Fairways in die suidelike voorstede van Kaapstad en speel op ‘n viool wat die internasionaal-bekende Avigail Bushakewitz aan hom leen. “Buiten die ongelooflike klank van die instrument maak die gegraveerde engel op die rugkant van die viool dit baie besonders,” glimlag hy nederig.

Hy het die NJMK-prysgeld gebruik om ‘n nuwe viooltas te koop en om die hare van al sy strykstokke te vervang. Die saldo is belê omdat hy beplan om ná matriek sy musiekstudie oorsee voort te sit om ‘n professionele musikant te word.

Die NJMK streef om Suid-Afrika se opkomende klassieke musieksterre te identifiseer, bloot te stel en te ontwikkel.

Kaartjies kos R150, R60 vir studente. Besprekings kan gedoen word by die Hermanus Toerismekantoor in Mitchellstraat, telefoon 028 312 2629.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar